Onderwyser deel haar wysheid

As daar een ding is wat jong onderwysers in gedagte moet hou, is dit dat hulle die onderwys “baie positief” moet betree.


twtht

Julia Daniels by een van haar laaste dae as onderwyser by Idasvallei Primêre Skool. Foto: Elmarine Anthony

As daar een ding is wat jong onderwysers in gedagte moet hou, is dit dat hulle die onderwys “baie positief” moet betree.

Dít is die raad van die afgetrede onderwyser, Julia Daniels (65).

Ná 42 jaar by Idasvallei Primêre Skool en meer as 44 jaar in die onderwys, gaan Julia nou “al die skool af slaap”.

Volgens Julia is dit lekker om skool te hou en met kinders te werk en dit is waarom jong onderwysers positief moet wees. “Jy het jou struikelblokke en uitdagings, maar wees positief en behandel die ouers en kinders met respek. As jy dít doen, gaan jy die onderwys baie geniet. Dis lekker om skool te hou en die land het onderwysers nodig.”

Daar is natuurlik tye wanneer onderwysers sukkel met kinders, maar Julia vertel: “Wees lief vir hulle en werk met hulle dan gaan jy jou werk geniet en jy moet jou werk geniet sodat jy kan werk.”

Julia, wat in Idasvallei grootgeword het en nou in Cloetesville woon, het in 1973 haar beroep as onderwyser by Temperance Town Primêre Skool in Gordonsbaai begin.

Haar diensjare het egter eers in 1975, toe sy by Laerskool Cloetesville aange­stel is, begin. “In die ou dae as jy ’n vrou was en getrou het, moes jy bedank. Dit was een van die reëls onder Apartheid. Wanneer jy teruggegaan het werk toe, het jou diensjare weer van vooraf begin.”

Sy het in 1977 by Idasvallei Primêre Skool begin werk.

Julia sê sy gaan die omgee vir die kinders die meeste mis. As hokkie­koördineerder gaan sy dié sport ook mis. “Ons het nou ’n sintetiese veld gekry en nou moet ek aftree.”

Benewens die kinders gaan sy haar kollegas ook mis.

Die baie papierwerk van die onderwys is egter een ding wat sy definitief nie gaan mis nie, vertel Julia.

As daar een ding is wat sy wou verander, sou dit wees dat daar slegs een assessering per kwartaal moet wees.

“In die verlede het ons slegs een assessering per kwartaal gedoen. Nou doen ons twee. Die werk is baie meer veeleisend as wat dit in die verlede was. Ons onderrig te min in die klasse en moet te veel papierwerk doen. In die verlede het ons die kinders meer geleer. Jy het die kinders tot voor die eksamen geleer en dan was dit eksamen, maar nou is die tyd vir die eksamen baie min en die kleintjies sukkel eintlik.”

Op die vraag oor hoe sy haar aftrede gaan deurbring, vertel Julia sy wil graag meer stap. Julia het drie volwasse kinders en vyf kleinkinders. “Ek gaan meer aandag aan myself gee deur te stap. Ek en my man wil ook ’n bietjie vir Suid-Afrika gaan verken.”

Vir eers wil sy egter net gaan rus. “Ek wil net slaap. Al die skool ‘af slaap’. Ek sal miskien weer met die hokkie kom help, maar nie weer onderrig nie. Ek het my fair share van onderrig gehad,” skerts sy.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.