Onderwyser van PRG beste in natuurwetenskap

Nederig, dankbaar en geweldig trots.


Nederig, dankbaar en geweldig trots.

So beskryf Luize Kroukamp, ’n onderwyser by Paul Roos Gimnasium (PRG), haar gevoel nadat sy verlede week by die Nasionale Onderwys- toekennings op ’n geleentheid in Johannesburg as die beste natuurwetenskap-onderwyser aangewys is.

“Die proses was uitdagend in die sin dat dit tydrowend was en nogal emosioneel uitputtend aangesien jy eers deur ’n provinsiale ronde gaan waar jy voor ’n paneel ’n voorlegging moet doen en dan, indien jy wen, ontvang ’n mens ondersteuning van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om die voorlegging weer te verbeter voor die nasionale ronde in Johannesburg,” verduidelik Kroukamp.

Sy sê jy moet baie introspeksie doen en jouself en jou metodes evalueer en self ook kritiseer. “Die positief was egter dat ek die kans gehad het om so baie ander passievolle, energieke en leidende onderwysers te ontmoet. Ek kon by elkeen iets leer wat ek weer kan toepas.”

Kroukamp voeg by die toekenning beteken dat sy dit elke dag weer moet verdien. “Dis een ding om onderwysleiers en kenners te beïndruk, maar die ware uitdaging is om elke dag die leerders wat voor my sit vir die leerproses en vir wetenskap te wen.

“My benadering is om elke dag besluite of aksies ter verbetering te neem. Ek is mal oor my werk en dit gee my energie selfs al het my eie kinders my die hele nag wakker gehou. Ek gee werklik vir my leerders om en ek is gaande oor my vak en ek glo my leerders ervaar dit as hulle in my klas instap. Jou talente is God se gawes aan jou. So, hierdie is alles my geskenk terug aan die Een wat vir my alles gegee het,” voeg sy by.”

Kroukamp het nie gedink sy kán wen, of gáán wen nie. “Hoe meer ’n mens die ander kandidate leer ken, hoe meer besef jy dat daar fenomenale onderwysers in ons land is wat elke dag die ekstra myl, onder baie moeilike omstandighede, vir hul leerders loop,” sê sy.

“En daardie passie en toewyding is aansteeklik. Ek moet sê ek het van my aanstelling by PRG in 2010 uitstekende mentors gehad; leiers wat vir my geleenthede, vertroue en ondersteuning gebied het.

“Ek sou nie die juffrou wees wat ek vandag is as dit nie was vir die skool, die leiers en die leerders nie. Ek leer nog elke dag by die seuns en glo my daar is nooit ’n vervelige oomblik nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.