Borrelend en altyd gereed om ’n glimlag op iemand anders se gesig te sit – dit was die 31-jarige Arantxia Davids.

Davids, van Jonkershoek, en ’n vriend, Arno Jegels (35), is oorlede nadat hulle en twee ander insittendes in ’n motorongeluk op die R45 Paarl-pad betrokke was.

Davids, oorspronklik van Cloetesville, haar seuntjie Lee-vano Brink, Jegers en Oswill Dixon was Saterdag (15 Junie) na die Swartland onderweg toe die ongeluk omstreeks 08:30 in die Malmesbury-gebied gebeur het.

Basil Lakay, Davids se peetpa, sê hy sal haar altyd vir haar positiewe uitkyk onthou. “Daar is altyd positiewe en negatiewe dinge in die lewe, maar ek sal die goed onthou. Sy was altyd gereed vir ’n uitdaging en het maklik leiding geneem wanneer nodig,” vertel Lakay.

Davids het voorheen by die plaaslike U-Save gewerk en was ’n bekende gesig in die gemeenskap. Sy het later in veiligheid gewerk.

Davids is ná die ongeluk na die Swartland-hospitaal geneem waar sy aan haar beserings beswyk het. Jegels het ook in die ongeluk omgekom, terwyl Davids se negejarige seun ernstige beserings opgedoen het. “Lee-vano is tans in die Rooikruis-kinderhospitaal. Hy het reeds ’n operasie ondergaan, omdat sy rug, bors en kop seergekry het. Sy skouerbeen is ook gebreek,” het Lakay Dinsdag verduidelik. “Hy en sy ma was baie na aan mekaar – ek dink nie hy sou sonder haar kon asemhaal nie.”

Hoewel die seun ernstige beserings opgedoen het, is hy buite gevaar.

Intussen het medelye vir Jegels ook ingestroom. Sy geliefdes beskryf hom as ’n mens wat vir almal liefde gehad het en ’n engel was vir diegene wat hom geken het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus, blyk dit geen ander voertuie was betrokke nie, maar die omstandighede rakende die ongeluk word nog ondersoek.

Teen druktyd was geen begrafnisreëlings vir die oorledenes al aangekondig nie.

Wyle Arno Jegels.

You need to be Logged In to leave a comment.