Drie mense is ernstig en twee lig beseer toe ’n minibus en twee ligte voertuie vroeg Maandagmiddag, 21 Februarie, op die Helshoogtepad naby Alluvia-wynlandgoed in ’n botsing betrokke was.
Die ongeluk het omstreeks 12:30 plaasgevind.
Die voertuie, ’n Toyota-minibus, Nissan Tida en Mercedes-Benz het in die rigting van Kylemore gery toe hulle gebots het. Dit is onduidelik hoe die ongeluk gebeur het.
Twee van die insittendes, onder andere die bestuurder van die Nissan Tida, was volgens ’n ooggetuie in die motor vasgepen terwyl ’n derde persoon uit die voertuig gerol het.
Reddingsdienste het die insittendes uit die wrak gesny en na ’n nabye hospitaal geneem.
Die insittendes van die Mercedes en Toyota-minibus het ligte beserings opgedoen.