Een motoris is dood en drie ernstig beseer in ’n gru-ongeluk Saterdagaand (16 Maart).
Noodpersoneel is omstreeks 22:40 na ’n ongelukstoneel op die R44-pad naby die Techno-park-verkeerskruising. Volgens die plaaslike polisie het beamptes op ’n silwer VW Polo en ’n grys Land Rover afgekom wat blykbaar gebots het.
“Die bestuurder van die Polo is op die toneel dood verklaar en verskeie mense is na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling,” het kapt. Nathalie Martin, Stellenbosch-polisiewoordvoerder, gesê.
’n Saak van strafbare manslag is geopen en die omstandighede van die ongeluk word ondersoek.. Ná nog ’n noodlottige ongeluk Dinsdagoggend (19 Maart) is die N1 ure lank gesluit. Dit het op die N1 aan Kaapstad se kant – ’n klipgooi van die Klapmuts-afrit – plaasgevind.
Volgens ’n Facebook-video van EJ Breakingnews was ’n bakkie wat koerantaflewerings behartig, op pad in die rigting van Klapmuts toe die bestuurder beheer oor die bakkie verloor het. Die bestuurder asook twee mense wat agterop die bakkie gesit het, is oorlede. Dit blyk geen ander voertuie was betrokke nie, maar altesaam ses mense is beseer.