Die liggaam van ’n volwasse man het Sondagoggend uit die see by die Strand uitgespoel nadat ’n soektog verlede Woensdag van stapel gestuur is toe ’n Franschhoekse man wat gaan swem het, vermis geraak het.
Dit is Dinsdagmiddag (10 Januarie) deur die speurbevelvoerder van die Strand-polisie, lt.kol. FW Plaatjies, aan Eikestadnuus bevestig.
Hoewel die liggaam vermoedelik dié van die Franschhoekse man is, meen Plaatjies die oorledene se oorskot moet eers deur familielede uitgeken en sy identiteit deur DNS-toetse bepaal word.
“Die man se liggaam was naak toe dit uitgespoel het. Die identiteit van die oorledene kon ook nog nie bepaal word nie, aangesien sy gesig onherkenbaar is,” sê Plaatjies.
Hy sê die saak sal waarskynlik na die Somerset-Wes-polisie oorgeplaas word, aangesien die liggaam in daardie omgewing – by Strand – uitgespoel het.
Dit volg vier dae nadat die stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se tak in Gordonsbaai, Alan Meiklejohn, bevestig het dat diensspanne op 4 Januarie in kennis gestel is oor ’n man wat naby die NSRI Gordonsbaai-satellietreddingstasie vermis geraak het.
Vyf vriende van Franschhoek was die dag saam op die strand toe die man glo in die water verdwyn het terwyl hy saam met twee van die vriende geswem het.
Die NSRI, tesame met ondersteuning van menseredders van van die Stad Kaapstad, die EMS, GB Med-ambulansdienste, Kaapstadse brand- en reddingsdienste en lede van die wetstoepassingsmarine-eenheid, die polisie en die Strand-gemeenskapsbuurtwag, het op die toneel gereageer.
Die NSRI-reddingstuig Zelda is te water gelaat en die EMS-Skymed-reddingshelikopter is ontbied.
’n Hommeltuig is ook ontplooi om met die soektog te help.
Die soektog was ’n deurlopende stryd vir polisieduikers sowel as lede van die NSRI Gordonsbaai en menseredders van die Strand en die Stad Kaapstad, terwyl wetstoepassingsbeamptes die situasie dopgehou het.
“Ondanks ’n uitgebreide lug-, see- en kuslynsoektog is geen teken van die 31-jarige Franschhoekse man gevind nie,” lui Meiklejohn se aanvanklike verklaring.