Onderwysers by die Hoërskool Cloetesville sê genoeg is genoeg tydens hul betoging.


Onderwysers by die Hoërskool Cloetesville het verlede Woensdagoggend, 20 April, tussen 07:30 en 08:00 voor die skoolhek teen seksuele teistering van vroulike personeellede en leerders betoog.

Dit volg nadat ’n voorval van seksuele teistering van ’n onderwyseres glo onlangs by die skool plaasgevind het. Volgens die betogers het die skoolbeheerraad uitsetting aanbeveel, maar die WKOD het besluit die leerder moet weer in die klas toegelaat word.

“Sowel mans- as vroue- opvoeders is briesend, want hulle voel dat hul werkgewer geensins vir die welsyn van die opvoeders omgee nie. Daarom het ons besluit om op te tree deur ons misnoeë uit te spreek en in solidariteit met die betrokke opvoeder, wat emosioneel en sielkundig geknak is, op te tree,” het een van die betogers gesê.

Volgens die opvoeders is dit nie die eerste keer dat dit met onderwysers gebeur nie, maar wel die ergste voorval tot nou.

“Vroulike onnies ondervind byna elke dag mishandeling deur veral seuns in graad 8-10. Hulle word gevloek, seuns loop uit die klas sonder toestemming en raas terwyl lesse aan die gang is. Baie gebruik dwelmmiddels en bakleiery kom gereeld in die klaskamer voor. Dit kan nie langer geduld word nie.”

Dorian Meyer, die hoof, het verlede kwartaal ’n brief aan ouers gerig waarin hy ’n nuwe veldtog, “Let’s step it up”, bekend gestel het, met die doel om dissipline te verbeter. Hierdie brief het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei – tot so ver as Namibië – en het net positiewe kommentaar gekry. Die brief het ook in die media verskyn. Die brief beklemtoon die streng optrede wat deur die skool gevolg gaan word en selfs ouers wat hul kinders se wangedrag goedpraat, sal nie toegelaat word nie.

“Almal is dit eens dat leerders se gedrag oor die afgelope paar jaar uiters verswak het – oor die hele Suid-Afrika heen. Selfs dié wat gewoonlik respekvol is, vat ook al kanse. Die doel is juis om wangedrag, klein of groot, vas te vat sodat ons op die leerders se akademie kan fokus. Gelukkig is die meeste van die leerders goed gemanierd en hulle maak ons trots,” het ’n onderwyser gesê.

Opvoeders vra die samewerking van ouers en die breë gemeenskap om die skool te ondersteun sodat leerders sukses kan behaal. ’n Petisie wat deur al die onderwysers onderteken is, is aan Willie Maliwa, die kringbestuurder in die gebied, oorhandig waarin hulle hul griewe lug en eis dat die WKOD opvoeders bystaan en leerders wat hulle aan ernstige wangedrag – veral geslagsgeweld – skuldig maak, uit die skool verwyder word of dat ’n alternatiewe voorstel onderhandel moet word om die kind se opvoeding voort te sit.

“Hoe gee jy klas vir ’n leerder wat jou so verneder en met fisieke en seksuele geweld dreig? Wat as dit weer gebeur? Ons het genoeg gehad!”

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, sê die departement is bewus van die voorval. “Die skoolbeheerliggaam het ’n tugverhoor gehou en die aanbeveling vir uitsetting word nou deur die departementshoof oorweeg. Wetlik kan ’n skool nie ’n leerder vir meer as 14 dae ná die verhoor skors nie. Daarom is ons wetlik verplig om die leerder toegang toe te laat. Die uitslag van die uitsettingsaanbeveling sal binnekort aan die skool gekommunikeer word.”

Sy het gesê opvoeders en leerders kan mishandeling op die WKOD- Veilige Skole-blitslyn aanmeld. “Die tolvrye nommer 0800 45 46 47 bied gratis aanlyn kommunikasie aan diegene wat hulp, leiding of inligting oor ondersteuning benodig.”

You need to be Logged In to leave a comment.