Ek skryf hierdie brief in reaksie op ’n brief in Eikestadnuus van 19 Mei: “Onnies se drag laat ook veel te wense.”

Ek is ’n onderwyser by die Laerskool Cloetesville en ons het op die dag van die protes swart in solidariteit met die hoërskool aangetrek.

In reaksie op die sogenaamde “bekommerde ouer” van Cloetesville, ’n onderwyseres kan kaal skool toe gaan en dit gee nie vir ’n kind toestemming om aan ’n mens te vat nie. Ons, as onnies in Cloetesville, werk in bitter ongewensde omstandighede. Die dissipline en gedrag van die leerders laat ons elke dag sprakeloos. Ouers is baie vinnig om vingers te wys en selfs dreigemente saam met hul kinders skool toe te stuur (en ek praat uit ervaring), maar die onderwyser bestee sewe-plus ure elke dag met die kinders wat hulle moet opvoed.

Onderwysers is nie die ouer nie en die ouers is grootliks skuldig aan hul kinders se tekortkominge. Laastens, dis 2022. Onderwysers is nie almal ouer as 50 nie. Hierdie tipe “blameer-die-slagoffer”-gedrag is ook nie meer mode nie. Beweeg met die tye, want dis dié tipe uitkyke wat die gemeenskap terug hou.


Amé Rademeyer,

Stellenbosch

You need to be Logged In to leave a comment.