Die sowat 25 huishoudings wat in 2022 te midde van ’n uitsettingsbevel deur die Wes-Kaapse hooggeregshof na die Meerlust-bosbouterrein op die R45-pad naby Pniël verskuif is, sê hulle is aan hul “eie genade oorgelaat” – onder meer omdat hulle steeds geen water- of elektrisiteit-aansluitings het nie.
Die groep het aanvanklik op ’n stuk grond langs die R45 tussen Franschhoek en die Paarl geplak. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het egter ’n uitsettingsbevel in September 2021 uitgereik om die plakkers na ’n gebied in die Meerlust-bosbou te verskuif. Die uitsettingsbevel is deur die Stellenbosch-munisipaliteit oorsien, en die plakkers is in Maart 2022 na die nuwe stuk grond by die Meerlust-bosbougemeenskap verskuif – ’n besluit waarmee sommige van dié klein gemeenskap se oud-inwoners tot vandag toe nie gelukkig is nie.
Johannes Malgas, een van die plakkers, het vandeesweek gesê hulle lewe in “ondraaglike omstandighede”.
“Water is seker een van die belangrikste goed op hierdie aarde. ’n Mens kan nie daarsonder klaarkom nie. Ons het net een kraan wat al 25 hokke moet gebruik. Dan is dit nie eens ’n kraan wat aan ons voorsien is nie.
“Dis een klein waterpunt op een van die bestaande erwe wat ons hier kom kry het. Daar is gedurig ongelukkigheid oor die gebruik van hierdie waterpunt,” vertel hy.
Malgas sê dit voel nie asof hulle deel is van die Meerlust-bosbougemeenskap nie. “Daar word vergaderings hier gehou, dan sal hulle seker maak dat die boodskap nie hier by ons uitkom nie. Ons is letterlik tweedehandse inwoners en moet met die minste tevrede wees.
“Ons hokke is hier opmekaar kom plak. As hier ’n brand uitbreek, brand al hierdie hokke af. Saans moet ’n mens met een oog oop slaap net om seker te maak jou buurman se vuur, wat hy vir kos gebruik omdat ons nie krag het nie, hou nie ’n gevaar vir jou hok in nie.”
Glinechia Conradie, nog ’n voormalige plakker en nou Meerlust-inwoner, sê hulle sal graag wil sien dat die gemeenskap behoorlike sanitasiegeriewe ontvang.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het in 2022 tydelike toilette voorsien, wat glo weekliks onttrek en skoongemaak word.
“Die toilette is baie naby aan die hokke. Ons kan nie eens ordentlik eet nie. As hulle die riool kom trek, moet jy jou deure en vensters styf toemaak, anders stink jou hele plek na stront. Dis morsig en hou ’n gevaar vir ons kinders in. Enigiemand se kind kan daarin val,” meen Conradie.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het by navraag gesê die grond waarheen die plakkers verskuif is, behoort aan die departement van openbare werke.
“Ons het aansoek gedoen by die departement vir die grond om na ons oorgeplaas te word. Dit sal ons dan in staat stel om ’n formele behuisingsprojek van stapel te stuur sodat inwoners in meer waardigheid kan leef,” het Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, gesê. Grobbelaar het bygevoeg dat die enkele waterpunt en chemiese toilette wat deur die munisipaliteit voorsien is, aan die “minimum vereistes” vir basiese dienslewering voldoen.