‘Ons soek net grond’: is Cloetesville-organisasie se pleidooi aan Stellenbosch-munisipaliteit

’n Speelgoed-biblioteek in Cloetesville wil die glans in kinders se oë terugsit deur vir hulle ’n tuiste te gee om net kind te wees. Maar om dit te kan doen, sê die organisasie The Early Education Centre (TEEC), het hulle meer as net ’n spasie nodig – hulle benodig grond om die sentrum op te…


’n Speelgoed-biblioteek in Cloetesville wil die glans in kinders se oë terugsit deur vir hulle ’n tuiste te gee om net kind te wees.

Maar om dit te kan doen, sê die organisasie The Early Education Centre (TEEC), het hulle meer as net ’n spasie nodig – hulle benodig grond om die sentrum op te rig.

“Ons vra sedert 2013 vir die munisipaliteit om ons te help om ’n gedeelte van die oop grond langs die gebou waar ons tans is te bekom, maar ons het geen geluk nie. Daar is elke keer ander verskonings,” sê Bonita Daniels, hoof van TEEC.

“Ons doen so baie en het so baie om vir die kinders in die gemeenskap te bied, maar ons kry nie inkoop van die munisipaliteit nie.”

Sy voeg by dat daar ’n kragstasie langs die speelskool is wat gereeld gevandaliseer word en wat hulle baiekeer benadeel. “Hierdie kragboks word tot drie keer per week gevandaliseer. En ons het selfs aan die munisipaliteit voorgestel dat ons die kragstasie sal omhein as hulle die grond aan ons gee.”

Die Stellenbosch-munisipaliteit sê egter die bewering is onwaar dat daar geen korrespondensie of samewerking van die munisipaliteit was nie, aangesien daar huurooreenkomste in plek was en aangesien die groep se nuwe voorstel erken is.

“Die Babin Junior Crèche is in 2003 op ’n gedeelte van erf 2149 (die erf hier ter sprake) begin toe ’n huurooreenkoms met die munisipaliteit gesluit is. Die jongste huurooreenkoms (hernuwing) is in 2012 gesluit vir ’n tydperk van vyf jaar en ’n verdere opsietydperk van vyf jaar,” sê Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit. “Die ooreenkoms is egter vroeg beëindig op versoek van die huurder, die Babin Seed Trust.

Grobbelaar sê ná die opheffing van die Covid-19-ramptoestand en nasionale inperking is ’n nuwe voorstel van ’n groep voormalige werknemers van die Babin Junior Crèche ontvang om ’n nuwe huurooreenkoms met die munisipaliteit te sluit.

“Ons is tans besig met ons interne proses rondom hierdie aangeleentheid voordat ’n item voor die burge­meesterskomitee ter tafel gelê word vir oorweging,” verduidelik Grobbelaar.

Daniels sê TEEC se speelgroep het letterlik onder ’n boom in Smartietown begin en vandag beweeg honderde kinders maandeliks deur die speelgoed-biblioteek. Die speelgroep se vakansieprogramme bied ook vir ongeveer 60 kinders per dag ’n veilige hawe.

“Ons het gesien hoe die kinders doelloos rondloop en ons wou hulle besig hou. Ons het onder ’n boom bymekaar gekom en ’n speelgroep begin,” vertel Daniels. “In daardie stadium het ’n gemeenskapslid vir ons gesê ons sal nie kan voortgaan om onder die boom bymekaar te kom nie, want weens die weerveranderings sal dit nie volhoubaar wees nie. Iemand het toe aangebied dat ons onder haar afdak bymekaarkom. Daarna het ons na Pieter Langeveldt Primêr geskuif en ná ’n tyd het hulle die klaskamer nodig gehad en ons het toe na die kerkgebou (God’s Faith Mission Church), waar ons nou is, by Rhodestraat 31 verhuis. Maar ons grootste uitdaging is ’n plek van ons eie.”

Sy voeg by dat die TEEC deel van die ondersteuningsnetwerk van die Kaapse Wynland-onderwysdistrik is wat vroeë-kindontwikkelingsentrums (VKOS) help registreer en opvoeders oplei. “VKOS is kleinsake-ondernemings wat werk skep in ons gemeenskappe en mense bemagtig. Hulle speel ’n belanrike rol in ons onderwys-gemeenskap. Ons is ’n klein organisasie met groot harte wat net ondersteuning soek,” sê Daniels.

“TEEC is gebore uit die nood vir ’n organisasie in Cloetesville om kinders die geleentheid te gee om net kinders te wees en ons het die speelgoed-biblioteek gestig vir kinders om met speelgoed te speel. Ons het gesien die kinders wat hier kom speel beskik nie oor die nodige vaardighede om in die hoofstroom-onderwys te kan meeding nie,” verduidelik Daniels.

TEEC bestuur ’n reeks vroeë-kindontwikkelingsprogramme, insluitend die speelgoed-biblioteek, wat met jong kinders, hul ouers of primêre versorgers en opvoeders in vroeë-kindersentrums werk. Die doel met hierdie programme is om die leer en ontwikkeling van jong kinders te verbeter.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.