Só sê, Emilio (29) en Enrico (26) van Graan, twee broers van Pniël, nadat hul ouers en suster verlede Saterdagaand in ’n ongeluk oorlede is.
Hul pa, Eugene van Graan (54), die skoolhoof van Raithby Primêr, hul ma, Elma (52), hul suster Euodia (23) en haar kêrel, Ronwan Adams (23) van die Paarl, is Saterdagaand in ’n ongeluk op die R44 naby Stellenbosch dood.
“Ons ouers en suster was ons alles, hulle het ons in alles ondersteun, maak nie saak wat dit ook al was nie,” het Enrico gesê.
“Ons ouers was opregte mense. Regverdige mense. Omgee mense. En dit sal ons vir ewig onthou. Selfs toe ek en my pa mekaar die afgelope twee jaar nie kon sien nie weens ’n hofbevel, het hy steeds ’n groot rol in my lewe gespeel en saam met my ma en suster my ondersteun deur die moeilike tyd waardeur ek gaan. Hul deernis en liefde is wat my deur hierdie tyd dra,” het ’n bewoë Enrico bygevoeg.
Emilio voeg by dis die klein basiese goed wat hul ouers vir hulle geleer het wat hulle moed gee om aan te gaan. “Hulle het ons grootgemaak om Godvresend te wees en altyd die regte ding te doen, maak nie saak hoe moeilik dit is nie,” sê Emilio.
“Ons ma was die lig van die familie, sy het altyd gelag en vreugde gebring. Dit was baie maklik om met haar te kon praat. Ons suster is haar ewebeeld. Ons pa was beskermend en ons het nooit gesien wanneer hy seer ervaar het nie, maar hy en my ma was altyd daar vir ons.”
“Ons ouers het alle kinders dieselfde behandel, maak nie saak of dit hul eie was en of dit iemand anders s’n was nie, hulle het hulle almal gelyk behandel. Hulle het ons geleer om deernis en liefde aan ander te toon,” voeg Emilio by.
“As ons ooit die geleentheid gehad het om vir hulle totsiens te kon sê, sou ons dit nie doen nie, ons sou saam met hulle wou gaan.”
Volgens Elma se broer, Ruben February, vermoed hulle dat die oorledenes ten tyde van die ongeluk met Eugene na die hospitaal gejaag het omdat hy aan hartprobleme gely het en hy moontlik siek geword het.
February sê hy het nie vir Adams baie goed geken nie omdat hy en Euodia onlangs eers begin uitgaan het. “Ek sou hom beter wou leer ken, want hy het na ’n gawe mannetjie gelyk.”
’n Deurry-gedenkdiens is Woensdagaand (12 Oktober) vir Adams gehou in sy tuisdorp, Paarl, by Disastraat 14, Klein Nederburg.
Rubin Steyn, Raithby Primêr se waarnemende skoolhoof, sê die dood van Eugene laat ’n groot leemte. “Die skoolgemeenskap treur oor die reuseverlies van ’n kosbare kollega wat die vermoë gehad het om behoorlik met mense te werk en die beste uit hulle te bring, onverpoos gepoog het om sy medemens gelukkig te hou en sy passie tot voordeel van ander uitgeleef het.”
Volgens Steyn is daar vooraf deur die provinsiale onderwysdepartement asook die plaaslike gemeenskap se Metodiste-kerk berading vir leerders en personeel gereël.
Die Stellenbosch-polisie het die voorval bevestig en gesê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek. Kapt. Nathalie Martin, ’n polisiewoordvoerder, het gesê drie mense is op die toneel dood en een later in die hospitaal.
“Die ongeluk het omstreeks 22:00 op die R44 naby die Mountain Breeze-woonwapark gebeur toe die Ford Figo waarin hulle gery het, in ’n ongeluk betrokke was. Die ondersoek duur voort,” het Martin bygevoeg.
Dit is onbekend hoe die ongeluk gebeur het.