Almal ken dit al te goed – daardie lomerigheid wat in die namiddag by ’n kantoor instap, sy baadjie uittrek en dit nonchalant oor jou skouers gooi terwyl hy met ’n vet grinnik in jou oor fluister: “Nee wat, jy kan maar die handdoek ingooi, jou fut vir die dag is uit.”
By die Weg-tydskrifken hulle net een teenvoeter vir dié toestand: melktert.
Dís die ontdekking waarmee die Weg-redaksie11 jaar gelede een namiddag in Februarie vorendag gekom het – nie sweets en chocolates nie, maar ’n sny melktert! Dit voel asof jou ouma skielik langs jou kom sit, oor jou rug vryf en sê: “Ouma weet dis swaar, maar jy vaar goed en ek is trots op jou, my kind.”
Dalk was dit die kaneel, dalk die vlokkies skilferkors wat oor die lessenaar geval het . . . wie sal ooit weet? Al wat saak maak, is dat die Weg-redaksie op 27 Februarie 2012 die perfekte namiddaghappie gevind het.
Dié nuus was te goed om nie te verkondig nie en die daaropvolgende jaar is vriende, lesers, radiostasies, Facebook-kennisse, koffiewinkelbase en sjefs oorgehaal om op 27 Februarie ook melktert te bak, te sny en saam met geliefdes te geniet.
Bykans oornag het iets wat as ’n hunkering na ’n soetigheidjie begin het, tot ’n landwye genot gegroei, en nasionale Melktertdag is gebore.
Sedertdien het Weg sy erestempel op dié feesdag afgedruk. Daardeur vereer hy plattelandse melktertbakkers en plaas tuisnywerhede vir ’n verandering weer heel bó op die lys kitskoskettingrestaurante.
Alle Suid-Afrikaanse kultuursoorte word opnuut verenig om ’n lekkerny te maak wat almal se hartsnare roer.
Ondersteun dus vanjaar jou plaaslike tuisnywerheid en gaan koop ’n melktert om nasionale Melktertdag opreg te vier.
Bestanddele
Kors
- 2 hoogvol eetlepels
botter, gesmelt - 1 eiergeel
- 1 eetlepel suiker
- ½ koppie koekmeel
- ½ teelepel bakpoeier
- knippie sout
Vulsel
- 500ml melk (dit moet
vars melk wees, NIE boksmelk nie – baie belangrik) - 2 eetlepels botter
- 2 eiergele
- ½ koppie suiker
- 40 ml koekmeel
- 15 ml Maizena
- knippie sout
- ¾ teelepel
vanieljegeursel - ¼ teelepel
amandelgeursel - 3 eierwitte
Metode
Kors
Voeg die eiergeel en suiker by die gesmelte botter, en meng goed.
Voeg die koekmeel, bakpoeier en sout by, en meng goed.
Druk die deeg vas in ‘n gesmeerde tertbak om ‘n kors te vorm.
Vulsel
Kook die melk, botter en suiker saam.
Voeg die koekmeel, sout en Maizena (droog) by, of klits dit in met ‘n
draadklits.
Voeg die geursel en eiergele by.
Klits die eierwitte styf en vou dit by die melkmengsel in nadat dit vir sowat 7
minute afgekoel het.
Voeg dit in die kors, en bak teen 180 grade Celsius vir 30 minute.
Strooi kaneel en bietjie suiker oor.
Lek jou lippe af, en begin smul!