Die “groot K” is ’n siekte wat nie net die lewe van pasiënte raak nie, maar ook hul gesinne, families en vriende wat deel van hul ondersteuningstruktuur vorm.
Daarom het die vroue agter die plaaslike organisasie Stellenbosch Cancer Warriors besluit om hul werk amptelik bekend te stel en só ook meer Stellenbossers te help.
“Ons as ’n groep werk reeds lank saam met die Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Toe die Covid-pandemie gebeur, het ons besluit om by Aunty Sophy se kombuis te ontmoet om die pad vorentoe te bespreek,” vertel Natalie Appolis, die voorsitter van Stellenbosch Cancer Warriors.
Die groep vroue het toe besluit dis tyd om hul eie organisasie sonder winsbejag te stig. “Dit was lank reeds my wens vir die kanker-oorwinnaars en -pasiënte in die dorp. Ons het dit tot stand gebring. Dit was nie maklik nie, maar met die hulp van professionele mense het ons sedert Februarie 2022 ons eie organisasie.”
Appolis weet self hoe belangrik dit is om ondersteuning te bied aan diegene wat ’n pad met kanker stap. Haar broerskind was in gr. 2 toe leukemie by hom gediagnoseer is. Sy vertel dit was ’n lang, emosionele pad, wat haar laat besef het watter tol die siekte op almal om die seuntjie se lewe geneem het. “Hy is in Tygerberg-hospitaal opgeneem waar ek in die dag langs sy bed gewaak het, want sy ouers moes gaan werk.”
Vandag is hy gesond en het sy eie gesin, maar die ervaring het Appolis bygebly en sy en ander vroue in die gemeenskap het besef daar is ’n leemte vir baie gesinne wat deur dieselfde ervaring gaan. “Deur dié stryd het ek besef ek en my span kan ’n verskil in Stellenbosch maak. Terwyl ek in die hospitaal gewaak het, het kindertjies daagliks aan kanker gesterf, wat baie in my hart gekruip het. Daar het ek geleer om sterk te wees, want ’n kind kruip baie gou in my hart.”
Appolis meen ’n ondersteuning-struktuur is belangrik – vir kanker-pasiënte sowel as hul versorgers.
Die bekendstelling van Stellenbosch Cancer Warriors by St. Idas Primêr is dus ’n geleentheid vir die gemeenskap, belangstellendes en skenkers om die spanlede te ontmoet. Die organisasie poog ook om meer bewusmaking oor kanker te skep, want “dié siekte staan voor enige se deur”.
Die organisasie se vele projekte sluit onder meer in Oorwinnaarsdag, wat hierdie Saterdag (8 Junie) plaasvind, die Stellenbosch Cancer Warriors se high tea (10 Augustus) en die Stellenbosch-kleure-pretloop in November.
- Ontmoet die span van Stellenbosch Cancer Warriors volgende Donderdag (13 Junie) om 11:00 by St. Idas Primêr vir meer inligting.