Flink dink en spanwerk is ’n prettige nuwe manier vir leerders om hul skoolwerk prakties te leer.
Die Hoërskool Lückhoff in Idasvallei is die eerste skool waar ’n hibriede leermodel deur middel van ’n ontsnappingskamer nou aangebied word. Lesse in enige vak kan nou op ’n prettige manier aangebied word met leerders wat hul grysstof moet gebruik om betyds te “ontsnap”. Die idee van enige ontsnappingskamer is om binne ’n vasgestelde tyd leidrade te volg om legkaarte en take te voltooi.
Delecia Davids, lektor in die onderwys by die Universiteit van Stellenbosch (US), verduidelik die idee vir die projek het deels gekom tydens haar prakties. ’n Gesoute onderwysers het gesê haar prettige projekte en lesse is oulik, maar wanneer sy ’n “regte onderwyser” is, sal daar nie tyd vir sulke dinge wees nie.
Davids bieg hierdie denkwyse was een van die redes hoekom sy uiteindelik nie na die klaskamer teruggekeer het nie. Dit het haar egter geïnspireer om in nuwe en innoverende maniere van klasgee te belê.
Tydens die Covid-pandemie het Davids en haar studente ’n speletjie-gebaseerde les-aanbieding uitgedink en die ontsnappingskamer is gebore. Sy voeg by die veelsydigheid van die kamer is ook ’n pluspunt, want dit kan aangepas word vir enige vak of graad en kan met of sonder tegnologie gedoen word. Dit beteken ook beurtkrag hoef nie die les te belemmer nie. Onderwysers, rolspelers en ’n handjievol leerders het Donderdag 20 minute gehad om die ontsnappingskamer op die proef gestel. Al die legkaarte is gebaseer op die Mido-stigting se kurrikulum, wat reeds by die skool gebruik word.
“Die ontsnappingskamer is gewis ’n aanwins vir ons leerders. Tegnologie is net deel van die wêreld waarin hulle sal tree, en dit help hulle om daarvoor gereed te maak. Ons kinders is deesdae visuele leerders en ek glo hulle sal die kamer baie geniet,” meen Virginia Boraine, ’n onderwyser by die skool.
Dit is egter nie net die leerders wat by die ontsnappingskamer sal baat nie. Die onderwysstudent Merielle October sê projekte soos hierdie maak haar opgewonde vir die toekoms van onderwys. “Geskrywe assessering is nie ideaal vir alle leerders nie. Hierdie is ’n praktiese manier om nie net aan die les te werk nie, maar ook om die leerders se vaardighede in spanwerk, lewensvaardighede en kritiese denkwyse aan te wakker.”
October meen leerders het deesdae so baie uitdagings, en om hul skoolwerk prettig te maak, kan kinders twee keer laat dink voordat hulle skool agterlaat.
Die ontsnappingskamer is tans slegs by Lückhoff in gebruik, maar Davids en die span van die Mido-stigting se droom is om dié projek ook by ander skole uit te rol.