’n Verdagte (32) is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van twee studente op die Franschhoekpas.Foto: Getty Images


Die polisie het onlangs daarin geslaag om nie net een van die Franschhoekpas-ontvoerders in hegtenis te neem nie, maar een van die studente wat ontvoer is, het ook al die geld wat sy familie vir sy vrylating moes opdok, teruggekry.

’n Man (32) het in die Caledon-landdroshof verskyn in verband met die ontvoering van twee studente verlede maand in die Franschhoekpas.

Hy staan tereg op aanklagte van onder meer ontvoering, roof met verswarende omstandighede en geldwassery. Paarl Post, susterskoerant van Eikestadnuus, het oor die twee afsonderlike voorvalle in die Franschhoekpas berig waartydens ’n fietsryer en twee studente ontvoer en lospryse vir hul vrylating geëis is.

Die ontvoerders het in albei voorvalle met die slagoffers tot in Grabouw gery, waar hulle aangehou is totdat lospryse vir hul vrylating betaal is.

Die polisie kon by navraag slegs die voorval waartydens die twee studente ontvoer is, bevestig. Die Burger het verlede week by nadere ondersoek bevind die twee studente het Saterdag 15 Junie by ’n uitkykpunt in die pas stilgehou om na die sterre te kyk toe ’n taxi langs hulle stop en twee mans met hamers en vuurwapens uitklim.

Hulle is albei eerstejaarstudente aan die Universiteit Stellenbosch.

Albei studente se gesinne moes lospryse van tussen R50 000 en R200 000 vir hul vrylating betaal. Die een student het op voorwaarde van anonimiteit aan Die Burger bevestig dat haar vriend se gesin al hul geld teruggekry het.

Die aanklag van roof met verswarende omstandighede hou waarskynlik verband met berigte dat die een student glo met ’n hamer op sy been geslaan is en ook etlike vuishoue in die sy moes verduur.

Dit het alles in Grabouw afgespeel terwyl die ontvoerders met hul gesinne onderhandel het.

Hoewel die polisie nie die ontvoering van die vroulike fietsryer, wat voorverlede week met dieselfde modus operandi plaasgevind het, kon bevestig nie, word verneem sy moes ook sowat R50 000 betaal om vrygelaat te word.

Die fietsryer is ongedeerd.

Die polisie, in oorleg met die Valke, se ondersoek duur intussen voort.

Intussen het die Fidelity Services-groep in ’n verklaring gesê wanneer dit kom by kapings en ontvoerings, kan individue ’n groot en positiewe verskil aan hul veiligheid maak deur altyd bewus te wees van wat rondom hulle aangaan. “Praat met jou versekerings­verskaffer oor die voertuigopsporings­apparaat wat hulle aanbeveel. Dit kan jou help om jou voertuig op te spoor,” raai Charnel Hattingh, ’n woordvoerder van die Fidelity Services Group, aan.

You need to be Logged In to leave a comment.