Drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n negejarige seun in Klapmuts aangerand en ontvoer het, het verlede Donderdag (8 Februarie) in die Paarl-landdroshof verskyn.
Justin Limco (21), Nathan Nuuvenhuis (24), en Zane Marthinus (34) word elk deur vier aanklagte in die gesig gestaar, naamlik ontvoering, poging tot moord deur middel van elektriese skok, poging tot moord deur middel van verdrinking, en poging tot moord deur middel van aanranding.
Dít is volgens 8 Februarie se hofverrigtinge bekendgemaak.
Die voorval, wat op video vasgevang is, spruit uit ’n onderonsie tussen die drie mans en die minderjarige, waar hulle hom daarvan beskuldig dat hy glo R600 by hulle gesteel het.
Volgens kol. André Traut, ’n pronvinsiale polisie woordvoerder, het die voorval Saterdag 27 Januarie plaasgevind. Die hof het egter aangevoer die voorval het Vrydag 25 Januarie plaasgevind.
Volgens die seun se ma het sy eers twee dae later van die voorval gehoor en daarna – Sondag 28 Januarie – die saak by die Klapmuts-polisie aangemeld.
Sy het verduidelik haar seun het niks oor die video gesê nie – “seker uit vrees” – en sy het daarvan gehoor toe iemand wat glo tydens die voorval teenwoordig was, haar vertel het.
In die video, wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het en intussen verwyder is, kan gesien word hoe drie mans die minderjarige deur middel van oorleikabels skok.
Die video wys hoe die seun se hande aan ’n staalsaag met plastiek-kabelbinders vasgebind is en daarna met oorleikabels aan ’n Volkswagen Golf se battery verbind is.
Daarna word water oor die staalsaag gegooi, waarna die oorleikabels aan die saag vasgeknip word sodat dit die seun skok.
Die marteling duur dan voort toe die seun met ’n gordel geslaan word.
Daarna gooi die seun se aanranders hom in ’n munisipale drom en probeer hom versmoor nadat hulle die drom se deksel toegemaak het.
Die video eindig waar die drie misdadigers ’n waterpyp in die drom druk met die doel om die seun te verdrink. Reg deur die video kan gesien word hoe die seun huil en smeek om sy lewe, terwyl omstanders lag.
Volgens die seun se familie ly hy aan skok en sukkel hy om die voorval te verwerk.
Die familie en oortreders woon in dieselfde straat in Klapmuts en is bure van mekaar.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, is die saak tot Donderdag 22 Februarie vir ’n streekhofdatum uitgestel. Die drie beskuldigdes het hul borgtogaansoek laat vaar en sal aangehou word, vermoedelik by Allandale Korrektiewe Dienste.
- Die seun en sy familie se name word weerhou omdat hy minderjarig is.