’n Brand het Donderdagoggend vroeg by woonstelblok C uitgebreek nadat die kragboks ontplof het weens onwettige bedrading. Foto:


Kragonderbrekings as gevolg van onwettige kragtoevoer het ’n gedeelte van Cloetesville verlede Donderdag (6 Januarie) vir etlike ure sonder krag gelaat.

’n Brand het Donderdag omstreeks 08:00 by woonstelblok C uitgebreek nadat die kragboks weens onwettige bedrading ontplof het. “Die voorval het in Kloofstraat, Cloetesville, plaasgevind. Dit is veroorsaak deur onwettige strukture wat onwettig aan die netwerk gekop­pel is. Die voorval is vroegoggend by ons aangemeld en daar is dadelik aan die werk gespring om elektrisi­teit na die geaffekteerde gebied te herstel. Geen beserings is by ons aangemeld nie,” het die Stellen­bosch-munisipaliteit se woord­voerder Stuart Grobbelaar gesê.

Teen laatmiddag was die grootste gedeelte van Cloetesville se kragtoevoer herstel, met slegs woonstelblok C wat later herstel is.

’n Omstander het aan Eikestadnuus gesê hy het net ’n harde slag gehoor en vlamme gesien. “Ek was op pad winkel toe, toe ek die slag hoor, amper soos ’n ontploffing. Toe sien ek net vonke en vlamme. Gelukkig is niemand beseer nie.”

Grobbelaar voeg by: “Onwettige verbindings is gevaarlik en moet dadelik by die munisipaliteit aange­meld word: WhatsApp-dienslyn, 076 951 0768 of WhatsApp- beheerkamer, 079 622 4722.”

You need to be Logged In to leave a comment.