Vrywilligers van Stellsorg se Oog op die Gemeenskap-projek het verlede week by ’n diploma-plegtigheid ’n eed van vertroulikheid afgelê en hulle daartoe verbind om hul gemeenskap met deernis en eer te bedien.
Die altesaam 40 vrywilligers (10 van Kylemore, 10 van Cloetesville en 20 van Kleinvlei, Eersterivier) het reeds in 2022 die Oog op die Gemeenskap-kursus voltooi en is Woensdag 21 September by Stellsorg-saal in Idasvallei met hul sertifikate beloon.
Bettie Nieuwoudt, direkteur van Stellsorg, het haar dankbaarheid en trots teenoor die vrywilligers uitgespreek en gesê hulle voeg waarde by tot die stryd teen geslagsgeweld in hul gemeenskappe.
“Julle is ons oë, ore en voete in die gemeenskap. Die funksie wat julle verrig, bring hoop aan ander in nood en voorkom menige kere dat iemand erger seer kry. Julle is supersterre,” het sy gesê.
Die vyf weke lange kursus wat die vrywilligers voltooi het, het onder meer wetgewing insake gesinsgeweld, kinderwette en basiese regte behandel. Elkeen moes ook na afloop van die opleiding ’n eksamen aflê en die minimum vereiste van 50% behaal om die sertifikaat te kon ontvang. Al 40 vrywilligers het die eksamen geslaag.
Nieuwoudt sê die ondersteuning wat die vrywilligers aan die maatskaplike werkers bied, is van onskatbare waarde. “Julle bied nie net hulp aan julle gemeenskap nie, maar hoop op ’n beter toekoms.”