Die uitgrawing in Birdstraat het tot muskiete, vuil water en ’n onaangename omgewing gelei.
Dit is wat die personeel van die kinder- en jeugsentrum Jeuguitreik aanvoer. Die onaangenaamheid het glo maande gelede al begin toe uitgrawingswerk op ’n erf oorkant die Jeuguitreik begin is.
“Ons word die afgelope tyd deur ’n plaag muskiete, wat in die staande water in die gat oorkant ons gebou uitgebroei het, geteister. Ten spyte van al ons pogings om die muskiete in ons gebou te beheer, bly hulle net kom, wat meebring dat die kinders in ons sorg só gesteek word dat hulle snags nie kan slaap nie, en dit raak weer hul skoolwerk bedags – ’n bose kringloop,” verduidelik prof. Johan Hattingh, die voorsitter van Jeuguitreik.
Planne vir ’n ontwikkeling op dié erf is reeds in 2018 by die Stellenbosch-munisipaliteit ingedien. Volgens die eienaar van die grond, Rose Jordaan, is die plan om ’n winkelsentrum op te rig. Dié plan sloer egter weens die hersonering van die eiendom wat deur die plaaslike munisipaliteit goedgekeur moet word. Weens die gesloer word geen werk tans aan die projek gedoen nie.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het teen druktyd nog nie op Eikestadnuus se vrae geantwoord nie.
Hattingh en sy Jeuguitreik-span sê sedert die aanvanklike uitgrawing is daar ’n groot oop gat waarin staande water opdam. Die sentrum voer aan die water hou ’n gesondheidsgevaar in. Daar is ook kommer dat iemand in die gat sal val.
Só bekommerd was die sentrum se personeel oor die gevaar wat die staande water inhou, dat hulle monsters geneem en die water laat ontleed het. “Afgesien van mense wat die uitgrawing as toilet gebruik, blyk of rou riool van iewers af in die uitgrawing insypel. Party dae is die stank van hierdie staande water onuithoubaar,” sê Hattingh. Met analise is koliforme bakterieë en E. coli-spore in die water uit die gat gevind. Tellings vir beide die bakterieë dui op besmetting van riool. Jeuguitreik sê dié bevindinge is onaanvaarbaar.
Die sentrum is onlangs deur die departement van maatskaplike ontwikkeling besoek en Hattingh sê hy sidder om te dink aan die indruk wat beamptes van dié departement gekry het. Die sentrum is by die departement as ’n plek van veiligheid vir kwesbare kinders geregistreer, met jeugdiges wat vanuit moeilike omstandighede deur ’n hof [uit hul ouerhuise] verwyder is.
Charleen Vermeulen, die bestuurder van die sentrum, sê die verlate erf het geen sekuriteit nie en lok talle kwaaddoeners. Die oop gat het dit blykbaar ook vir kabeldiewe maklik gemaak om hul elektrisiteitskabels te versteek.
Jordaan sê egter die staande water, wat glo weens ’n breuk in ’n munisipale waterpyp opgedam het, is intussen behandel en hou geen gevaar in nie.
Sy sê ook die erf is omhein en tot onlangs is sekuriteit ingekry om te verseker niks word op die oop erf gestort nie.
“Dit kos duisende rande om die erf te beveilig. Dit het gans te duur geraak en met die projek wat so sloer, oorweeg ek dit om eenvoudig die erf op die mark te sit,” sê Jordaan.
Sy voeg by munisipale dienste na die erf is reeds in 2019 afgesny. “Enige water wat tydelik op die perseel is, is 100% in die omheinde perseel met geen moontlikheid om enige waterbronne te besoedel nie.
“Wat die heining betref was daar twee plekke waar dit gedeeltelik geval het. Dit is op 18 Junie 2024 reggemaak. Die perseel is heeltemal omhein en geen toegang is moontlik nie,” het Jordaan verduidelik.