Donnevin Linders van Jamestown is een van sowat 40 mense wat elke maand gouer toegang het tot oogsorgdienste.Foto:


“Ek kan nou sien! Aan die begin was ek bietjie huiwerig, want daar is mos maar risiko’s as jy ’n operasie laat doen, maar ek is baie bly dat ek dit laat doen het.”

Só sê Donnevin Linders van Jamestown, een van sowat 40 mense wat elke maand gouer toegang het tot oogsorgdienste sedert die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand (WKDGW) begin het om oftalmologiedienste nader aan pasiënte in die Stellenbosch- en Drakenstein-omgewings te bring.

Oftalmologiedienste is sedert 1 Maart op ’n deeltydse basis beskikbaar by klinieke en gemeenskapsdagsentrums (daghospitale) in hierdie omgewings. Vir pasiënte soos Linders beteken dit dat hy die geskikte diens gouer en nader aan waar hy woon kon kry. Dit verminder die hoeveelheid ritte wat die pasiënt sou moes maak om deur ’n spesialis gehelp te word.

“Op die vlak van klinieke, daghospitale en ’n distriks­hospitaal soos Stellenbosch-hospitaal word ’n beperkte pakket van dienste gelewer wat oogsorg betref. Dit word aangevul deur ’n skole-gesondheidsprogram waarin ’n oogsorgdiens na leerders gebring word, en gesondheids­werkers is bly dat pasiënte nou nog beter ondersteuning het sedert die deeltydse aanstelling van die oftalmoloog. Mense soos Linders kom nou vinniger in aanmerking vir prosedures soos die verwydering van katarakte. Die bykomende ondersteuning van deeltydse oftalmologiedienste het ook daartoe gelei dat ’n toenemende hoeveelheid mense geïdentifiseer word wat omvattende oogsorgdienste benodig,” sê Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die WKDGW.

In die Kaapse Wynland het die Stellenbosch- en Drakenstein-omgewings die hoogste voorkoms van katarakte. Baie mense se sig word ook beïnvloed deur diabetes.

“My regteroog was heeltemal vaal. Ek is in die ambag en kon later nie meer sien nie,” vertel Linders.

Hy weet reeds sedert 2010 dat hy ’n katarak op sy regteroog het, maar in 2022 het sy sig in hierdie oog vinnig versleg. Hy is na Don & Pat Bilton-kliniek waar sy oë getoets is, en toe na Stellenbosch-hospitaal vir ’n konsultasie met die oftalmoloog. Later is sy katarak in Paarl-hospitaal verwyder. “Ek is baie bly oor die diens wat ek ontvang het.”

You need to be Logged In to leave a comment.