Die Jan Marais-natuurreservaat het in 1919 tot stand gekom nadat Jannie Marais geld in sy boedel bemaak het vir die aanlê en instandhouding van ’n openbare park in Stellenbosch. Gevolglik is 23 hektaar in wat vandag ’n sentrale deel van Stellenbosch is, omhein.
In 1962 is dit tot veldblomreservaat verklaar en in 1980 tot natuurreservaat. Vandag bewaar dit nie alleen die 1% van sekere fynbos-veldtipes wat tussen berg en see oorgebly het nie, maar dis ook ’n plek waar natuur en kultuur bymekaar uitkom, en waar daar veilig ontspan kan word.
Een van die aantreklikhede van die reservaat is die groot verskeidenheid van interessante inheemse en uitheemse bome wat daarin voorkom. So is daar ’n boom bekend as “oom Charlie se boom”. Dis ’n Engelse of Europese eikeboom (Quercus robur), wat in 1919 deur Charlie Neethling, destydse burgemeester van Stellenbosch, geplant is ter ere van die skenker. By die geleentheid is ook ’n eik deur Marais se weduwee geplant.
Ten spyte van hul hoë ouderdom is die bome nie besonder groot nie.
Wanneer jy hierdie historiese plek wil opsoek, volg die linkerkantse paadjie wat vurk van die ingangshek en draai ná sowat 100 meter by die derde paadjie skerp links. Ingeval die uitstappie jou vermoei, is daar wel ’n rusbank onder oom Charlie se boom.
Net voor jy by die plek kom, kyk ’n bietjie rond en daar naby sal jy ook ’n kurkeik (Quercus subor) sien.
Hierdie eik, ook afkomstig van Europa, se dik en growwe bas word al baie jare lank gebruik vir die maak van proppe, kurkvloere en die binnekant van krieketballe. Stukke van die bas kan ook baie suksesvol gebruik word om die spruite van ’n boomorgidee op te vestig.
Benewens hierdie bome is daar ook ’n groot verskeidenheid van ander uit- en inheemse bome in die Jan Marais, baie van hulle met naamplaatjies.