Oorplantings red lewens, sê jong Stellenbosser

Fit for life en om die lewe tot die uiterste te leef – dit is Herculaas Lamprecht se leuse vir sy lewe en ook toevallig die leuse van vanjaar se Suid-Afrikaanse Nasionale Oorplantingspele.


Fit for life en om die lewe tot die uiterste te leef – dit is Herculaas Lamprecht se leuse vir sy lewe en ook toevallig die leuse van vanjaar se Suid-Afrikaanse Nasionale Oorplantingspele.

Hoewel hy sy Achilles-tendon beseer het, is Herculaas (27) steeds opgewonde dat vanjaar se Spele in Kaapstad plaasvind.

Herculaas, ’n voormalige leerder van Paul Roos Gimnasium, se lewe het op 13-jarige ouderdom onomkeerbaar verander nadat akute myeloïede leukemie (AML) by hom gediagnoseer is.

“Ek het op 23 Maart 2011 ’n beenmurg-oorplanting by die Mediclinic Constantiaberg ontvang en dit het my lewe gered. Ná die oorplanting en met intensiewe chemoterapie het die Here ’n wonderwerk in my lewe gebring. Die oorplanting het my lewe gered,” sê hy.

Hoewel dit ’n moeilike tyd vir Herculaas was, het hy baie oor homself geleer. “My uitkyk op die lewe is seker baie anders as dié van ander mense omdat ek op ’n jong ouderdom blootgestel is aan mense wat gesterf het en intensiewe chemoterapie ondergaan het. Ek het op 13 vinnig grootgeword.”

Dit was ook hier in die hospitaal waar Herculaas deur ’n medepasiënt, Oom Jurie Klopper, geïnspireer is om te begin oefen. “Hy was ’n dokter en het oefeninge in die hospitaal gedoen. Hy het geglo ’n gesonde liggaam lei tot ’n gesonde denkwyse, wat goed vir die siel is. Hy is later dood, maar dit het my bygebly.”

Herculaas, wat by Coetzenburg oefen, was gereed om die 800 m, 200 m, hoogspring en verspring by die Spele aan te pak voordat hy beseer is. “Ek is baie opgewonde vir die Spele, hoewel ek nie self kan deelneem nie,” sê hy.

Herculaas het voorheen in die o.16-ouderdomsgroep aan die 100 m-wedloop deelgeneem en aflos gehardloop, asook aan velditems soos verspring en gewigstoot. In sy velditems het hy ’n silwer- en bronsmedalje verower.

In 2017 was hy terug by die nasionale spele en het hier met die 800 m-wedloop ook op die podium geëindig.

Deel van sy voorbereiding was oefen en gesond eet, maar Herculaas bieg soms het hy ’n KFC- of Steers-maaltyd geniet. Oefensessies voor 06:00 en draf in die namiddag het wel gehelp om Herculaas fris en gesond te hou.

Benewens sy liefde vir atletiek is hy veral geïnteresseerd in ekonomie, filosofie en belegging – die veld waarin hy vandag werk. Hy het B.comm-beleggingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Hy tokkel ook graag op die kitaar.

Herculaas raai mense aan om as orgaanskenkers te registreer, indien dit in hul kultuur is en by hul etiese geloof inpas. “Jy kan iemand se lewe red, ongeag jou geloof, geslag of ras. Dit is die grootste beloning wat ek glo jy eendag kan kry as jy weet jy kon iemand help.

“My oorplanting – beenmurg – het beteken hulle het ’n bloed-pasmaat vir my gevind. Ek was baie bevoorreg en het 14 Suid-Afrikaanse pasmaats gehad en twee internasionaal. Uiteindelik is ’n internasionale skenker gekies,” sê hy.

In die oes van die stamselle vir die oorplanting moes Herculaas se skenker se bloed van sy stamselle geskei word. Dit is toe ná intensiewe chemoterapie in Herculaas oorgeplant.

“Die oorplanting het my lewe gered en ek is dankbaar vir die Here se genade. Nie almal kry ’n tweede kans in die lewe nie, maar die Here het my geseën met ’n wonderwerk. Ek is dankbaar vir my skenker en dis baie ironies, want my gesin het destyds vanuit ’n gebied in Berlyn na Pole getrek, en dit was juis hier van waar my skenker, met wie ek DNS deel, gekom het.”

  • Die SA Nasionale Oorplantingspele vind van Donderdag 26 tot Sondag 29 September plaas.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.