Die vuurwapen, geld en vermeende gesteelde goedere wat tydens ’n soektog in George Blake-straat gevind is.Foto:

Credit: SYSTEM

Twee mans het Maandag (21 Augustus) op aanklagte van onder meer bedrog en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

Dit volg ná die mans, 40 en 37 jaar oud, se inhegtenisneming tydens ’n roetine- ondersoek in Stellenbosch verlede Woensdagoggend (17 Augustus).

Volgens kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, het lede van die Stellenbosch-misdaadvoorkomingseenheid en die Stellenbosch-verkeersdepartement omstreeks 10:15 ’n grys Opel op George Blake-pad in Stellenbosch afgetrek.

“Die polisiebeamptes het die voertuig met twee insittendes deursoek en ’n vuurwapen met ammunisie ontdek. Toe hulle die vuurwapen se reeksnommer toets, is bevestig dat die eienaar reeds in 2008 oorlede is,” het Martin gesê.

“ ’n Onbekende, maar groot som kontant is ook in die voertuig gevind en albei insittendes is op die toneel in hegtenis geneem.”

Die verdagtes het Maandag op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, besit van vermeende gesteelde goedere en bedrog in die hof verskyn. Die bestuurder is ook aangekla van die oortreding van die Immigrasiewet van 2002 seksie 49(1)(a). Die uitkoms van die hofverskyning kon teen druktyd nie vasgestel word nie.

Oor die naweek (18 en 19 Augustus) is talle suksesse behaal, insluitend inhegtenisnemings:

. Besit van gevaarlike wapens (messe, ensorvoorts) – 5

. Besit van huisbraaktoerusting – 1

. Besit van vermeende gesteelde eiendom – 3

. Besit van dwelms (tik, Mandrax) – 7

. Besit van toerusting om by voertuie in te breek – 1

. Besit of ontvangs van vermeende gesteelde goedere – 1.

You need to be Logged In to leave a comment.