Oorwinning oor kanker gevier

Stellenbosse kankeroorwinnaars het onlangs feesgevier, nagedink en selfs ’n traantjie weggevee tydens die jaarlikse Cancer Warriors Survivor-viering.


Stellenbosse kankeroorwinnaars het onlangs feesgevier, nagedink en selfs ’n traantjie weggevee tydens die jaarlikse Cancer Warriors Survivor-viering.

Op Saterdag 9 November het talle oorwinnaars, hul vriende, familie en ondersteuners by Jan S. Marais-park bymekaargekom vir ’n dag vol aktiwiteite. Volgens Natalie Apollis van Stellenbosch Cancer Warriors Survivor was dit ’n dag van samekoms.

“Dit was ’n reuse-sukses. Al het die wind ons weggewaai, het ons deurgedruk,” vertel sy en sê die wind was niks in vergelyking met wat pasiënte moet deurmaak nie.

Die Maties-gimnasiumspan was byderhand om vrae oor oefening en welstand te beantwoord, terwyl Linda Martin wenke gedeel het oor ’n gesonde dieet en hoe om ’n gesonde leefstyl te handhaaf.

Op die dag het Maureen Kennedy en haar vrywilligers die kankeroorwinnaars teen ’n heuwel opgehelp, met ’n slaansak en ’n klok wat bo op hulle gewag het. Die oorwinnaars moes die sak ’n hou gee en die klok lui as simbool van hul veggees en oorwinning. Daarna het die groep verby die dam beweeg as herinnering aan reiniging en vernuwing.

’n Hoogtepunt van die dag het gevolg met die Rememberance-boom waar elkeen wat iemand verloor het weens kanker ’n geleentheid gehad het om die foto van die oorledene op die boom te plak en vir elkeen ’n kersie van hoop aan te steek.

Apollis sê die geleentheid speel ’n sleutelrol in die alledaagse werk van die Cancer Warriors Survivor-groep, deur broodnodige geld en bewusmaking te genereer.

“Hierdie ondersteuning help ons om projekte soos die aankoop van noodsaaklikhede soos doeke en rolstoele vir oorlewendes te finansier en bied ons die hulpbronne om voortdurende emosionele en praktiese ondersteuning te verskaf. Boonop skep dit ’n geleentheid vir oorlewendes om bymekaar te kom, hul stories te deel en ’n sterk ondersteuningsnetwerk te bou,” sê Apollis.

Oorwinnaars en hul ondersteuners het ’n stap na bo di heuwel geneem.

Die Remembrance-boom waar hulde gebring is aan diegene wat hul stryd teen kanker verloor.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.