Drie broers van Idasvallei sê hulle is slegter af as wat hulle was voor die Stellenbosch-munisipaliteit hulle van hul plakkershuise in Garden City na Jamestown verskuif het en nou vrees hulle vir hul lewe.
Die mans, Orbit, Tony en Jonathan Denton en Tony se lewensmaat, Edwina Moses, is saam met ses ander plakkers verlede week met ’n hofbevel na Jamestown verskuif.
“Die munisipaliteit het ons gefaal. Ons het vir die DA gestem, maar kyk wat doen hulle aan ons. Hulle het ons na Jamestown verskuif en toe ons Maandag (30 Mei) daar kom, het inwoners van Jamestown in die wendy’s wat die munisipaliteit vir ons opgerig het, ingetrek. Ons goed was uit die huise gegooi,” sê Orbit.
Die munisipaliteit sê egter hy het sy regs- en grondwetlike plig teenoor die mense nagekom, die hofbevel ten volle uitgevoer, alternatiewe verblyf aan die mense gebied en toegang tot basiese dienste beskikbaar gestel.
Die broers beweer dat die inwoners van Jamestown aanspraak gemaak het op die huise omdat hulle reeds jare lank vir huise wag.
“Hulle het ons met die dood gedreig en gesê hulle soek ons nie daar nie. Die munisipaliteit het gesê die wendy’s gaan water, krag en toilette hê, maar daar is niks nie. Niks wat ons sedert ons eerste gesprekke in Oktober verlede jaar ooreengekom het, is nagekom nie.”
Orbit sê hulle was glad nie teenstrydig met die ooreenkoms nie. “Inteendeel, ons het hulle gevra om ons deel van die nuwe projek te maak. Ons bly al amper 15 jaar hier, ons pla niemand en ons hou die plek skoon. Ons het gevra dat ons hier kan aanbly en hier kan werk, maar hulle wou nie,” voeg hy by.
“Die mense beset erf 9445 in Idasvallei. Hierdie erf is vir ontwikkeling toegeken en die kontrakteur is reeds besig met die konstruksieproses,” verduidelik munisipale woordvoerder Stuart Grobbelaar.
“Die grondbesetters het die konstruksieproses belemmer. Die kontrakteur het ’n aangepaste konstruksieprogram ingestel, terwyl pogings aangewend is om met die besetters te onderhandel om vrywillig die erf te verlaat. Hierdie pogings was onsuksesvol en die munisipaliteit moes hom tot die howe wend.”
Hy voeg by dat die hofuitspraak voorsiening maak vir alternatiewe behuising. “Die besetters sal tydelik gehelp word tot hulle hul eie residensiële heenkome kan vind of kan kwalifiseer vir ’n geleentheid in een van die munisipale behuisingsprojekte soos geïdentifiseer in die nuutste weergawe van die munisipale behuisingspyplyn.”
Die broers het intussen na Garden City teruggetrek, maar sê hul skuilings is deur werkers omgegooi.
Nog ’n inwoner van Idasvallei, Edwald Moses, sê die munisipaliteit sou eers ’n laekostebehuisingsprojek aanpak, maar nou sing hulle ’n ander deuntjie. “Ek het al in 1980 aansoek om behuising gedoen, maar is nou nog op ’n waglys. Elke keer is hier nuwe projekte, maar ons kry nie huise nie en die raadslid kom ook nie sy ooreenkomste na nie. Hulle beroof ons.”