’n Groep inwoners van Onder-Papegaaiberg in Stellenbosch, wat moeg is vir die beweerde gebrek aan optrede deur die Stellenbosch-munisipaliteit, beweer owerhede sloer om ’n oplossing vir informele nedersettings binne die Papegaaiberg-natuurreservaat te vind.
Hulle beweer versoeke dat die toegang tot die reservaat beperk word, val op dowe ore, en voeg by misdadigheid het hul buurt binnegedring.
Volgens ’n inwoner, Karin Coetzee, is inwoners raadop. “Die grootste probleem is dat die natuur vernietig en besoedel word – bedreigde plantspesies word nie beskerm nie, uitheemse plantegroei word nie uitgeroei nie, bourommel word gestrooi, diere word deur loslopende troppe honde en hul eienaars gejag, die rivier word besoedel, voertuie ry deur die reservaat, perde en varke loop in die reservaat rond en die gebied word as toilet gebruik,” sê sy.
“Niemand is weens misdaad en die teenwoordigheid van ongewenste karakters veilig om die reservaat te gebruik nie. Mense word deur troppe honde en hul eienaars aangeval en beroof. In die woonbuurt gebeur inbrake en diefstal, gewoonlik deur mense wat deur die reservaat kom; hulle skuil daar en klim oor die heining.”
Eikestadnuus het voorheen oor inwoners se ontevredenheid oor die toestand en veiligheid van die natuurreservaat berig (“Help red Papegaaiberg-reservaat”, 14 September 2023). Meer as 50 inwoners het ’n versoekskrif aan Stellenbosch se munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, oorhandig en ’n aanlyn petisie wat tot hede deur meer as 9 000 ondersteuners onderteken is, is van stapel gestuur.
Leiers van die groep het ook in Oktober 2023 met Anton Bredell, die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, vergader om hul bekommernisse ter tafel te lê (“Teken petisie om Papegaaiberg-reservaat te red”, 11 Oktober).
Coetzee beweer dat misdaad in die woonbuurt toeneem. “Vroeg verlede maand (Sondag 4 Februarie) is ’n gewoonte- misdadiger – ’n bekende inbreker wat al verskeie kere met diefstal weggekom het – gevang,” sê sy. “Hy het erken dat hy in die reservaat woon en is telkemale gesien waar hy oor die reservaat-heining klim en in die reservaat weghardloop.”
Kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, het die inhegtenisneming bevestig en gesê die beskuldigde het op Woensdag 21 Februarie op ’n aanklag van diefstal in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.
’n Groep inwoners het op die dag van die beskuldigde se verskyning voor die landdroshof met plakkate in teenkanting teen borgtog gestaan. Die saak is tot Woensdag 13 Maart uitgestel, het Martin bevestig.
Verder het ’n huishulp van Khayamandi, wat in Onder-Papegaaiberg werk, aan Eikestadnuus vertel hoe sy Saterdag 24 Februarie in Bloekomstraat deur ’n man met ’n mes aangeval en van haar selfoon beroof is. “Ek was daardie oggend op pad werk toe toe ek die man naby die begraafplaas gewaar. Ek het probeer wegkruip, maar hy het my genader en met ’n mes aangeval,” het sy gesê.
“Hy het my in die arm en rug gesteek, en ek het hom gevra waarom hy dit aan my doen. Hy het geantwoord en gesê: ‘Vandag gaan jy dood’. Ek het terugbaklei en geskreeu. Vier mense het my te hulp gesnel, maar hy het met my selfoon weggehardloop.”
Dié 41-jarige ma van twee is vir die behandeling van die steekwonde gehospitaliseer en is die volgende dag ontslaan. Martin bevestig ’n saak van diefstal is geopen, maar is tydelik gesluit totdat nuwe inligting en bewyse gevind word.
Coetzee beweer hul versoeke is deur die munisipaliteit geweier.
Volgens Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, het munisipale amptenare in Januarie met verteenwoordigers van Onder-Papegaaiberg en CapeNature vergader. “Dit was ’n positiewe vergadering en aan die einde van die vergadering is ’n werkbare aksieplan, soos deur alle partye ooreengekom, saamgestel,” het hy verduidelik.
“Die aksieplan spreek talle kwessies aan, insluitend toegangsbeheer, omheining van die reservaat, die oprig van nuwe naamborde en die bevordering van toerismeaktiwiteite in die reservaat.”
Hy het bygevoeg dat inwoners se kwessies nie deur die munisipaliteit geïgnoreer word nie.
“Die CapeNature-taakspan het bevindings op die vergadering voorgelê, en die burgemeester het direk daarna die bal aan die rol gesit met ons plaaslike toerismesektor om te kyk om plaaslike boswagte op te lei en in die reservaat in te span.
“Munisipale wetstoepassers monitor die gebied deurlopend en enige nuwe strukture word verwyder.
“Enige vorm van inbreuk op openbare grond, soos die natuurreservaat, is onwettig en word hanteer sodra dit onder ons aandag gebring word.
“Daar is opsetlik openinge in die bestaande heining gehou om te verseker dat noodvoertuie, brandbestryders en rampbestuurspersoneel in die geval van ’n noodgeval toegang tot die terrein kan verkry.”