Dis weer tyd vir die jaarlikse opedag van die Universiteit Stellenbosch. Voornemende studente en ouers sal Saterdag 20?April inligtingsessies en toere van die instansie se Stellenbosch- en Tygerberg-kampus kan bywoon. Foto: Stefan Els


Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan ’n opedag vir alle fakulteite op kampus aanbied waartydens leerders, ouers en onderwysers die US-kampusse en fakulteite in lewende lywe kan besoek.

Hierdie is die ideale geleentheid vir gr. 12-leerders om inligting oor studiegeleenthede, finansiële hulp, huisvesting en studentelewe te bekom.

Die opedag is op Saterdag 20 April van 08:00 tot 15:00 op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampus.

“Die groot voordeel van ’n opedag is dat voornemende studente direkte interaksie met universiteitspersoneel kan hê om spesifieke inligting oor die onderskeie studierigtings te bekom,” verduidelik Magdel Pretorius, adjunkdirekteur van die US se afdeling vir studentewerwing.

Besoekers aan die Stellenbosch-kampus het die opsie om hul dag van verkenning by die algemene inligtingsstalletjies (verwelkomingsarea) voor die Konservatorium of AdminA te begin. Inligtingsessies sal deur die dag herhaal word oor onder meer hoe om aansoek te doen sowel as finansiering en koshuise.

Instapdienste is beskikbaar vir internasionale studente, Suid-Afrikaanse studente op internasionale kurrikulums en studente met spesialeleerbehoeftes. Ook op die Rooiplein is private akkommodasie-entiteite, private instansies, Maties Sport en Pendal-studentegemeenskappe, terwyl die koshuise vir besoekers oop sal wees.

Voornemende studente en ouers word genooi om die uitstallings, demonstrasies en inligtingsessies by te woon en met fakulteitspersoneel te skakel.

Bywoning is gratis en oop vir almal. Sou leerders en ouers belangstel om inligtingsessies en sommige toere by te woon, moet hulle kaartjies vooraf by www.quicket.co.za bespreek. Die opedag-program is by www.maties.com beskikbaar; dit sal besoekers bemagtig om sorgvuldig inligtingsessies en toere te beplan.

Daarbenewens sal die US ook ’n aanlyn opedag vir leerders en ouers wat nié die opedag op kampus kan bywoon nie, aanbied. Hierdie virtuele platform is by https://blogs.sun.ac.za/open-day/ beskikbaar en sal oop bly tot Woensdag 31 Julie, wanneer aansoeke sluit.

  • Besoek www.maties.com, skakel 021 808 9111 of stuur ’n e-pos na info@sun.ac.za vir meer inligting.
  • Aansoeke vir alle programme open het Maandag (1 April) geopen.

You need to be Logged In to leave a comment.