Ses groot opelug-musiekkonserte word vanjaar by die KKNK aangebied om post-pandemie-vryheid behoorlik te vier.
Om af te skop word as’t ware amok gemaak terwyl die fees afgesluit word met ’n spesiale konsert op Paassondag, geskep deur Nataniël.
As deel van dié immergewilde opelug-musiekprogram kan feesgangers uitsien na ’n fees van musiek deur van Suid-Afrika se grootste gunstelinge. Besoekers kan hulle gereed maak vir opelugklanke van rock, pop, klassieke musiek en rymklets tot jazz en alles tussenin – die hele ketoetie wag hier op musiekliefhebbers.
Die 27ste KKNK, geborg deur Absa, word van 1 tot 9 April in Oudtshoorn aangebied en skop af met ’n tweedaagse musiekfees, Amok!, op Saterdag 1 en Sondag 2 April. Feesgangers kan hulle al van vroegmiddag af gemaklik maak vir ’n lekker kuier, wat hulle tot sononder onder die Klein Karoo-sterre sal kan voortsit. Saam met die topgehalte musiek deur verskeie kunstenaars en musikante vul die kroeë, geselligheid en ’n paar verrassings die aanbod aan.
Op die verhoog vir Amok! 1.0, ondersteun deur kykNET, op Saterdag 1 April, is onder andere Prime Circle, Refentse, Sunset Sweatshop, Die Heuwels Fantasties, Jo Black, Francois van Coke en vele meer. Sondag 2 April sit Amok! 2.0, ondersteun deur kykNET en Son, die topgehaltevermaak voort met onder andere Early B, YoungstaCPT, Loufi, Frazer Barry, Tribal Echo, Anton Goosen, Valiant Swart, Sima Mashazi, Hakkiesdraad en vele meer.
’n Spesiale sakpas-pakketkaartjie is beskikbaar vir beide konserte vir feesgangers wat nie ’n enkele oomblik wil misloop nie.
Donderdag 6 April is dit Spoegwolf en vriende, ondersteun deur kykNET en Netwerk24, se beurt om feesgangers op die Karoo-opelugverhoog te vermaak. Hul eerste shows ooit was in 2012 by die KKNK. Nou, meer as ’n dekade later, is hulle terug. Hulle bring al hul energie, ligte en harde musiek na die verhoog, met hulle grootste en malste show in ’n lang tyd. Koos Kombuis en Deon Meiring sluit onder andere by hulle aan.
Vir die grootste Karoo-paartie nog, ondersteun deur kykNET, is dit Vrydag 7 April tyd om van enige sorge te vergeet en jou partytjieskoene aan te trek vir ’n groot jol met onder andere Kurt Darren, Jo Black, Granville Michaels, Tracey-Lee Oliver en Jaconell Mouton. Dis groot internasionale treffers, gunstelinge uit eie bodem en ’n Karoo-paartie wat ’n onvergeetlike aand sal oplewer.
Karoo Pops, ondersteun deur kykNET en Netwerk24, is ’n jarelange tradisie op die KKNK se opelug-verhoog en Saterdag 8 April lewer die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, Karen Zoid, Francois van Coke, Lynelle Kenned en Luvo Maranti ’n aanbod van klassieke musiek, rock en ander genres, met musiek uit blyspele en Zoid en Van Coke se treffer “Toe vind ek jou” vir die eerste keer saam met ’n simfonieorkes.
Die opelug-musiekprogram sluit op Paassondag (9 April) af met Passi | Passio | Pasión | Passion, ondersteun deur kykNET en Die Burger; ’n epiese konsert deur Nataniël, geïnspireer deur sy liefde vir seremonie en rituele; die tydlose melodieë van Bach tot blues; die ritmes van katedrale tot wêreldmusiek; en die simboliek van geloof in kleredrag. Sewe van Suid-Afrika se voorste musikante – Charl du Plessis, Juan Oosthuizen, Werner Spies, Peter Auret, Dihan Slabbert, Nicolaas Swart en Wiehahn Francke – sluit by hom aan vir ’n onmisbare aand.
Dié aandkonserte word as ’n piekniek-atmosfeer ingerig. Konsertgangers is welkom om hul eie stoele te bring.
Kaartjies vir die opelug-musiekkonserte wissel van R250 tot R350 per persoon, met die spesiale naweekkaartjie wat vir die twee Amok!-konserte beskikbaar is teen slegs R550. Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as by die hekke.
Aandkonsert-kaartjies sluit boonop toegang tot die Feesmark vir die dag in, waar stalletjies, die eerste KKNK-feeswinkel, ’n pretpark, Liplekker se deli- en wynstalletjies, verskillende kroeë en kosstalletjies deur die dag besoek kan word.
Die volledige feesprogram vir die KKNK is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay. Verblyfbesprekings kan ook aanlyn gedoen word.
Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.