Algemene herstelwerk en opgraderings het onlangs by die Stellenbosch-hospitaal begin, met die oog daarop om jou ervaring by die hospitaal te verbeter. Foto: Angelo Julies


Algemene herstelwerk en opgraderings het onlangs by die Stellenbosch-hospitaal begin, met die oog daarop om jou ervaring by die hospitaal te verbeter.

Die projek raak al die hospitaal se sale asook dele soos die teater.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid sê hy is opgewonde oor die werk wat begin het en vra besoekers se geduld vir die duur van die projek. Die projek sal na verwagting in sowat 21 maande voltooi word.

“Ons sien al ’n geruime tyd daarna uit om herstelwerk en opgraderings aan te pak,” sê dr. Natasha Blanckenberg, bestuurder van die Stellenbosch sub-distrik van die departement. “Die voorkoms van ’n gebou en aanpassings sodat dit optimale ondersteuning aan dienslewering gee, is baie belangrik.”

Blanckenberg sê dienslewering in die algemeen sal minimaal beïnvloed word. “Van tyd tot tyd sal sale ontruim en pasiënte na ander sale geskuif word. Sekere chirurgiese prosedures sal vir ’n kort tydperk na ’n ander fasiliteit verwys word.

“Dankie vir almal se samewerking terwyl ons die projek voltooi. Ons sien uit daarna om die opgeknapte fasiliteit met julle te deel!” sê Blanckenberg.

Vir navrae bel 021 808 6106.

You need to be Logged In to leave a comment.