Opleiding nou en hier beskikbaar

Die e’Bosch-erfenisprojek se voorbereiding vir vanjaar se skoolvakansieprogram begin op 3 Junie met opleiding vir fasiliteerders se organiseringsvaardighede.

Die Batebouer-netwerk: Opleiding begin en word op vier agtereenvolgende Saterdae aangebied, wat op 3 Junie begin en van 9:00 tot 16:00 duur.


Die e’Bosch-erfenisprojek se voorbereiding vir vanjaar se skoolvakansieprogram begin op 3 Junie met opleiding vir fasiliteerders se organiseringsvaardighede.

“Ons bou voort op die skoolvakansieprogram van 2022 waar 18 programme in 11 van Stellenbosch se dorpies aangebied is. Vir 2023 is die hooftema ‘ ’n Hele nuwe wêreld’ met die onderskrif ‘Burgerskap en Hoop’,” sê Carol Lakay van e’Bosch.

Volgens haar gaan kinders vanjaar gereedskap ontwikkel waarmee hulle beheer van hul toekoms neem. “Daarmee word hoop geskep wat dit die moeite werd maak om toegewyd aan skoolafhandeling te wees.”

e’Bosch nooi al die medewerkers van die skoolvakansieprogram, organisasies en nuwe fasiliteerders uit om deel te neem aan die opleiding wat van 9:00 tot 16:00 op 3 Junie, 10 Junie, die oggend van 16 Junie en die finale voorbereiding op 24 Junie gaan plaasvind.

“Die skoolvakansieprogram begin Saterdag 24 Junie met ’n registrasiedag. Die program begin amptelik die Maandag daarna (26 Junie) en bereik ’n hoogtepumt in twee saamtrek-dae. Die sport-saamtrek gebeur in die laaste week van die skoolvakansie. Die saamtrek vir uitvoerende kunste is die Winter-wonderland-skouspel Saterdag 15 Julie,” voeg Lakay by.

Sy sê ’n wye reeks vennote het saamgekom om te verseker dat die wydste reeks skoolvakansieprogramme vanjaar oor die lengte en breedte van Stellenbosch beskikbaar is.

“Die opleiding word aangebied deur professionele mense in die velde sport en ontspanning, drama, musiek en beweging, avontuuraktiwiteite en kunsvlyt, stedelike voedseltuine en graad 11-leierskapsberaad.”

Skakelings met plaaslike kerke word aangemoedig op elke Vrydag van die skoolvakansie en word saam met ’n Deernisdag georganiseer en uitgevoer.

“Die vennote sluit baie van die organisasies in wat in die Keep them Safe-projek hande geneem het. Die stigtersvennote vir die 2022-program is die Stellenbosch-skolenetwerk, die Batebouer-netwerk, StellCare Stellenbosch, e’Bosch, ACVV, Thando en die Stellenbosch Academy of Sport.”

Lakay sê bestaande skoolvakansieprogramme kan baat vind by nuwe materiaal en voetsoolvlakgroepe kan baat vind by ondersteuning deur ’n wye front hulpbronne.

“Die Batebouer-netwerk het ’n doelwit dat elke kind in Stellenbosch genoeg ontwikkelingsbates het om te floreer en 2023 se vakansieprogram word deur die Jannie Moutonstigting ondersteun.”. Mense of organisasies wat by die opleidingsprogram wil aansluit, kan die projekleier, Wynanda Brinkhuis, by 061 595 4085 bel of ’n WhatsApp-boodskap stuur, of nog inligting per e-pos by wynanda@ebosch.co.za en carol@ebosch.co.za aanvra.

You need to be Logged In to leave a comment.