Altesaam 52 inwoners uit 14 dorpies het die e’Bosch-erfenisprojek se musiek- en bewegingsopleiding­werksessie bygewoon.Foto: Kennedy Ramatsea


Nog ’n opleidingsessie van die e’Bosch-erfenisprojek het Saterdag 10 Junie met ’n rekordgetal deelnemers plaasgevind. Die musiek- en bewegingsopleiding onder die leiding van Danell Herbst-Müller, dosent in musiekopvoeding en onderwyspraktyk by die departement musiek, Universiteit Stellenbosch, is by De Laer aangebied.

Altesaam 52 lede uit 14 dorpies het die werksessie bygewoon en kon baat vind by Herbst-Müller se jare lange kennis van musiekopvoeding.

Die volgende werksessie, ’n kuns- en kunsvlyt-werksessie, in die reeks opleidingsessies vind Vrydag 16 Junie plaas. Dié werksessie sal deur Wynanda Brinkhuis en Pricilla Visser tussen 10:00 en 13:00 aangebied word. Dit word by die Markotter-sportterrein aangebied vir koördineerders van vakansieprogramme oor die 14 dorpies van Stellenbosch.

Die opleiding geskied ter voorbereiding vir ’n effektiewe Junieskoolvakansie-program vir leerders tussen 6 en 18 jaar.

Vanjaar se program word in samewerking met onder meer die Jannie Mouton Stigting, Stellenbosch-munisipaliteit, Stellenbosch Akademie van Sport, Hands Unite, Work 4 A LIVING, StellSorg Stellenbosch, ACVV en die Stellenbosch Batebouersnetwerk aangebied en is daarop gemik om leerders en jeug gedurende die Junieskoolvakansie konstruktief besig te hou.

Alle bestaande jeugwerkers, Sondag­skool­onderwysers, naskoolsentrums, vroeë kinderontwikkeling- en kreatiewe tyd-onderwysers by skole kan baat vind by die opleiding en word genooi om aan te sluit.

. Vir meer inligting kontak die projekleier, Wynanda Brinkhuis, via WhatsApp by 061 595 4085 of skakel haar by dieselfde nommer of stuur e-pos na wynanda@ebosch.co.za of carol@ebosch.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.