In ‘n poging om die voortslepende verkeersprobleme in die Eikestad op te los, is ‘n voorstel ingedien om Piet Retief- en Kochstraat in eenrigtingstrate te verander.
Die Stellenbosch-munisipali- teit se raad het gister (Woensdag 30 April) die raadsitem aangehoor nadat die voorstel uit die gemeen- skap gekom het. ‘n Verkeerstudie is in 2023 deur die munisipaliteit aangevra om data in te win oor die lewensvatbaarheid van die voorstel.
Volgens die verkeerstudie sal die verandering van die twee strate na eenrigtingverkeer egter die verkeer in die gebied eerder vererger. Die twee strate is veral besig – nie net omdat dit as ingang vir die Brandwacht- en Dalsig- woongebiede dien nie, maar ook weens die nabye Rhenish hoër- en laerskole, Paul Roos Gimnasium sowel as die Hoër Meisieskool Bloemhof.
Die studie het onder meer bevind die bottelnek wat daagliks by die Piet Retiefstraat- en Suidwalweg-kruising plaasvind, sal nie deur die voorgestelde verandering verbeter nie. Padgebruikers beweeg grootliks van Piet Retiefstraat na Vrede- en Van Rheede-weg met tussen 1 000 en 1 500 voertuie wat die roete in spitstye gebruik. “Laer-Koch-weg het toegang tot Rhenish en Bloemhof en direk na eiendom. ‘n Skakel-volume van 400 voertuie per uur is soggens tydens die piektye in die noordelike rigting waargeneem,” lui die studie.
Volgens Mpamot, die konsultant vir die projek, sal ‘n eenrigting-pad die volume van verkeer meer as verdubbel. Ten spyte van die bevindinge, stel die konsultant voor dat die kapasiteit van die verkeersirkel by Piet Retiegstraat en Suidwalweg verbeter word.
‘n Plan wat ‘n groot uitwerking op die verkeerproblem kan hê, is die oostelike skakelweg. Dié skakelweg volg die die MR0169- provinsiale pad en behels die verlenging van Wildeboschweg van die R44 na Van Rheedeweg en ‘n verbinding met Pastorieweg by die Universiteit Stellenbosch se teologiese fakulteit met ‘n nuwe voorgestelde brug oor die Eersterivier. ‘n Voorgestelde alternatief is die verbreding van die Coetzenburg-brug.
Implementering van dié projek sal egter jare neem. Volgens die bevindinge sal dit goed wees om private vervoer te ontmoedig deur beter infrastruktuur vir fietsryers en stappers en parkeer-en-ry-geriewe te skep.