Die Stellenbosch-krieketklub (SKK) het die afgelope naweek die Promosieliga van die Boland-krieketunie gewen sonder om ’n beurt te boul of ’n lopie aan te teken. Dít nadat sy teenstanders, Ceres-krieketklub, die wedstryd verbeur het weens ’n tekort aan spelers.

Die tekort aan teenstanders word toegeskryf aan die begin van die rugbyseisoen in die Boland – iets wat kommerwekkend is vir krieket, meen SKK se voorsitter, Brian Minnis.

Minnis sê dis ’n absoluut fantastiese gevoel om ligakampioene te wees.

“Ons is steeds baie nederig. Ná al die harde werk wat ingesit is, is dit veral ’n bevredigende gevoel.

“Die liga is ’n interessante een. Ons moes kophou en gefokus bly, want ons kon baie maklik, sonder die regte ingesteldheid, wedstryde verloor het. Ons het juis teen Ceres in die eerste ronde verloor, wat jy kan toeskryf aan ’n gebrek aan toepassing,” sê Minnis.

Hy sê die spelers het gedurende die seisoen die nodige toewyding gewys en gereeld wedstryde met bonuspunte gewen.

“Ek glo steeds ons spelers kan nog beter presteer. Goeie en vroeë beplanning, tesame met ’n goeie afrigtingspan onder leiding van Razeen Luiters, het vrugte afgewerp. Luiters het veral gesorg dat die span as ’n eenheid fungeer en dat almal dieselfde doelwit in die oog het. Die span-etiek was kardinaal,” voeg hy by.

Minnis sê die bestuur het vandeesweek besluit om ’n kort ruskans te vat en voor einde April weer in alle erns met beplanning te begin.

“Wat belangrik is, is om die huidige golf van sukses te ry en dit te konsolideer. Ons wil ons definitief laat geld in die topliga van Krieket Boland. Eers sal ons tekortkominge ontleed, dit regstel, maar meer belangrik is om die positiewe te konsolideer en daarop te bou.”

Hy sê die klub is dankbaar vir elkeen wat ’n bydrae gelewer het tot sy sukses vanjaar.

“Die belangrikste gaan aan ons Almagtige Vader wat ons geseën en veilig gehou het op ons reise deur die seisoen. Sonder Hom was niks moontlik nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.