Meer sal gedoen moet word om plaaslike organisasies te help om uiteindelik vir finansiële hulp van die Stellenbosch-munisipaliteit te kwalifiseer.
Dit was die beroep van raadslede op die mees onlangse raadsvergadering (Vrydag 30 Mei) nadat die raad die jongste begunstigdes van die Grant-in-Aid (GiA) vir 2025-’26 goedgekeur het.
Hoewel verskeie organisasies van reg oor die munisipale gebied vir GiA aansoek gedoen het, het slegs ‘n handjievol uiteindelik dié finansiele hulp ontvang – grootliks omdat vele instansies nie aan die verskeie voorskrifte om vir die hulp in aanmerking te kom, nie daaraan voldoen het nie.
Baie van die aansoeke was van vroeëkinderontwikkelingsentrums, sportklubs en sentrums wat praktiese onderrig aan jongmense bied.
Die ANC sê hoewel dit hartseer is om te sien net hoe baie organisasies nie vir GiA in aanmerking gekom het nie, glo die party die aansoekproses is deeglik en regverdig hanteer.
Die GiA ondersteun organisasies sonder winsoogmerk – gemeenskapsgebaseerde en soortgelyke organisasies wat gemeenskapswerk, veral met hulpbehoewendes, verrig.
‘n Werksessie is in Oktober 2024 gehou om organisasies deur die aansoekproses te help, maar die munisipaliteit het steeds bevind dat talle organisasies se papierwerk nie in orde was nie. Finansiële state was vir sekere organsisasies byvoorbeeld uitstaande, wat die munisipaliteit genoodsaak het om hul aansoek af te keur.
Onder die projekte wat finansiering ontvang, is ‘n tuinprojek wat skenkings oor ‘n tydperk van drie jaar sal ontvang. Vanjaar se hulp sal die laaste vir dié spesifieke projek wees.
Die PA het op die vergadering aangevoer dis uiters belangrik dat die munisipaliteit seker maak diegene wat munisipale hulp ontvang, die beste moontlike kandidate is wat werklik probeer om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.


