Opposisiepartye in die Stellenbosch-munisipaliteit vra antwoorde nadat die Openbare Beskermer (OB) bevind het dat die aanstellings van twee senior amptenare onreëlmatig is en eis dat die uitvoerende burgemeester die verslag voor die raad laat dien.
“GOOD verwelkom die verslag deur die Openbare Beskermer, wat bevind het dat die aanstellings van adv. Annelene de Beer (direkteur van strategiese en korporatiewe dienste) en Kelvin Carolus (finansiële hoof) onreëlmatig is,” het Christie Noble, ’n GOOD-raadslid, gesê.
“Ons eis dat die uitvoerende burgemeester aan die raad verduidelik waarom sy ons in die steek gelaat het deur hierdie duidelik onreëlmatige en irrasionele aanstelling van hierdie senior bestuurders te bekragtig.”
Noble meen die burgemeester se versuim om hierdie verslag aan die raad voor te lê, sal ’n oortreding wees van artikel 5 van die munisipale stelselswet se regulasies vir “dissiplinêre aangeleenthede” met betrekking tot senior bestuurders, wat die Stellenbosch-munisipaliteit verder in oneer sal bring.
“Om hierdie wanadministrasie en onbehoorlike gedrag reg te stel, moet die munisipale bestuurder die onreëlmatige aanstellings by die Wes-Kaapse Provinsiale Tesourie aanmeld. Die raad moet ingryp om te verhoed dat die Stellenbosse belastingbetaler die rekening vir onreëlmatige uitgawes vir vriende en familie betaal,” voeg Noble by.
Die ANC sê hy het die OB se verslag noukeurig bestudeer en die verslag wys “bo enige twyfel” dat die “sinistere DA-beleid van kader-ontplooiing meedoënloos in ons munisipaliteit nagestreef word.
“As die amptelike opposisie hou ons die administrasie en die DA hiervoor verantwoordelik. Ons eis dat regstellende stappe wat deur die OB beveel, is ten volle geïmplementeer moet word. Ons eis ook dat die voormalige munisipale bestuurder, Anton Bredell, die LUR vir Plaaslike Regering Wes-Kaap, sowel as die Stellenbosch-burgemeester aangekla moet word van die oortreding van die munisipale stelselswet en die staatsdienswet,” het Monwabisi Rataza, die ANC-hoofsweep, gesê.
“Suid-Afrika is ’n land van reg en orde. Niemand is verhewe bo die oppergesag van die reg nie. Ons wil hê die raad moet die aanstellings van die posbekleërs hersien – nie net hersien nie, maar ook hoe om sulke aanstellings om te keer. Ons sal ons ook by die OB en voormalige raadslid Franklin Adams in die litigasieproses aansluit,” voeg hy by.
“Dit is vreemde beslissings soos dié wat ongelukkig veroorsaak dat die kantoor van die Openbare Beskermer se geloofwaardigheid aan flarde is,” het Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, gesê. “Dit is net desperate politieke partytjies wat self geen geloofwaardigheid het nie, wat nou soos ware opportuniste relevansie probeer soek. Die DA moedig die munisipaliteit aan om hul regsopsies te oorweeg om hierdie opportuniste ’n les oor die oppergesag van die reg te leer.”
Die ACDP sê hy stem saam met die OB-verslag dat die aanstellings onreëlmatig is. “Dit is onregverdig om ’n pos vir ’n sekere termyn te adverteer en wanneer die aanstelling gedoen word, die termyn te verleng of permanent te maak. Ons wil weet wat die administrasie gaan doen om dit reg te stel,” het Otniel Jooste (ACDP) gesê.
“Ons wil ook weet waarom dit die OB twee jaar geneem het om die ondersoek af te handel en tot ’n besluit te kom. Ons het hier te doen met poste wat die belastingbetaler se geld bestuur en vir die OB om so lank met die ondersoek te sloer, is ook baie kommerwekkend.”