’n Feestelike atmosfeer het Saterdag (1 Februarie) in die dorp toegesak toe trosse druiwe, massiewe bottels wyn en skitterende trompoppies aan die jaarlikse Oesfees-optog deelgeneem het.
Met die parade is die amptelike begin van die druif-oesseisoen ingewy. Verskeie wynplase, waaronder Le Chant, Skilpadsvlei, Long Dog, Muratie en Asara, het waens vir die rit deur die Eikestad se strate opgetof.
Die naweek se vieringe was besonders, aangesien Sondag (2 Februarie) die 366ste herdenking van Suid-Afrikaanse wynmaak was.
Vir Lanzerac was dit ook besonders, aangesien die 100-jaar-herdenking van die eerste pinotage-wyn, wat deur dié landgoed gemaak word, ook vanjaar gevier word.
Niemand was ook verbaas toe Lanzerac met die gesogte prys van beste wa van die optog af weggery het nie.
Kaapzicht het op sy beurt die gees-trofee gewen.