Organisasie abba kliënte al 40 jaar deur verslawing

Abba Stellenbosch het die afgelope naweek sy 40ste bestaansjaar gevier en teruggekyk op die werk wat hy die afgelope vier dekades in die groter Stellenbosch-gemeenskap gedoen het.


Abba Stellenbosch het die afgelope naweek sy 40ste bestaansjaar gevier en teruggekyk op die werk wat hy die afgelope vier dekades in die groter Stellenbosch-gemeenskap gedoen het.

Die geleentheid is Saterdag (3 September) by die VGK in Cloetesville gevier.

Abba Stellenbosch is ’n nieregeringsorganisasie en ’n program van Badisa, wat hoofsaaklik met dwelm- en drankverslaafdes in Stellenbosch en omliggende landelike gebiede werk.

Abba, wat voorheen Diakonale Dienste genoem is, het maatskaplike dienste in die gemeenskap verrig met die fokus op gevallewerk, groepe en gemeenskapsberading.

“Verskeie probleemareas, waaronder onder meer pleegsorgplasings, administrasie van toelaes en bejaardesorg, is hanteer. Alkohol- en dwelmmisbruik en huweliksprobleme is ook tydens programme hanteer,” sê Rosetta Phillips-Bock, ’n administratiewe beampte.

“Abba Stellenbosch se fokus het die afgelope 20 jaar geskuif na dwelm- en alkoholafhanklikheid. Individue en gesinne word deur middel van vroeë intervensie en familie-intervensie ingeskakel. Verskeie kliënte word ook na binnepasiënt-programme verwys. Deesdae doen ons bewusmaking en voorkomingsprogramme by skole. Abba het ook ’n vroue-welwees-en ouerleiding-program, wat jaarliks aangebied word.”

Phillips-Bock sê duisende mense het al by diakonale dienste/Abba gehelp.

“Ses van ons vorige kliënte het hul stories by die geleentheid gedeel en hul pad van nugterheid gevier. Ons het ook ’n ma en dogter, wat al drie jaar nugter is, in ons midde gehad.”

Erkenning is ook aan Vera Wales (82), een van die eerste maatskaplike werkers van die program, gegee vir haar werk oor die jare. Althea Arendse, een van die eerste administratiewe beamptes, was ook daar. . Abba Stellenbosch is hoofsaaklik afhanklik van skenkings, toiletware en nie-bederfbare produkte uit die groter gemeenskap, en het tans twee poste beskikbaar vir beheerraadslede. Enigiemand wat hulle beskikbaar wil stel, kan die kantoor by 021 883 8030 skakel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.