Net meer as ’n jaar ná die tragiese dood van die belowende sokkerster Oshwin Andries wag sy familie steeds vir geregtigheid om te geskied.
Dit is volgens die ontslape talent se ma, Natasha, wat sê haar seun se vermeende moordenaar is steeds op vrye voet. Die Andries-familie het Saterdag (24 Februarie) ter viering van sy lewe die Oshwin Andries-gedenktoernooi by die Klapmuts-sportterrein bygewoon.
Die geleentheid is deur Stellenbosch FC, die Andries-familie en die Klapmuts-sportraad aangebied op dieselfde dag wat Andries sy 21ste verjaardag sou vier.
“Vandag is ’n baie emosionele dag vir my,” het Natasha gesê.
“Dit het herinneringe van Oshwin se dae as ’n jong sokkerspeler teruggebring. Die kinders het my vandag baie aan hom herinner.”
Die 19-jarige Stellenbosch FC-verdediger het die wêreld aan sy voete gehad toe sy lewe skielik kortgeknip is. Hy is glo 29 Januarie 2023 tydens ’n woordewisseling in Mandela City, Klapmuts, gesteek (“A sad day for local soccer”, Eikestadnuus, 9 Februarie 2023).
Die inwoner van Klapmuts is ná die voorval na die Paarl-hospitaal geneem, waar hy behandeling vir die steekwonde ontvang het en die volgende oggend ontslaan is.
Andries is daarna weer vir ’n ondersoek terug hospitaal toe en het vanaf 1 Februarie 2023 van pyne in sy rug begin kla. Die talentvolle speler is 4 Februarie 2023 op pad na die hospitaal in sy ma se arms dood, ná hy glo aanvalle gehad het en van erge pyn gekla het.
Sy dogtertjie is in September 2023, sewe maande ná sy dood, gebore.
“Ek huil nog elke dag oor my kind. Dis baie moeilik, want hy het in my arms gesterf,” het Natasha gesê.
“Oshwin was ons hoofbroodwinner en ons is nog baie hartseer oor sy heengaan. Dis baie moeilik vir ons, want die persoon wat sy lewe geneem het, is nog op vrye voet.”
Natasha het bygevoeg die vermeende moordenaar het homself aan die Klapmuts-polisie oorgegee, maar geen klagtes is teen hom gebring nie.
“Die persoon is vrygelaat en loop nog elke dag hier rond,” het sy gesê.
“Destyds het die speurder belowe om my op hoogte van die saak te hou, maar ek het nog niks weer van die polisie gehoor nie. Ons is raadop, want ons word oor niks ingelig nie.”
Volgens sers. Madilyn Dombas, ’n woordvoerder van die Klapmuts-polisie, is iemand in verband met die saak ondervra, maar nie in hegtenis geneem nie.
“Die dossier is aan die departement van openbare vervolging vir verdere ondersoek gestuur, asook ’n beslissing vir moontlike vervolging,” sê Dombas.
Spelers van agt o.11-sokkerspanne van Stellenbosch, Klapmuts en omliggende gebiede het die afgelope naweek hul vaardighede op die veld ten toon gestel by die o.11 Oshwin Andries-gedenkfees.
Die toernooi, wat ter ere van die ontslape 19-jarige sokkerster aangebied is, is Saterdag (24 Februarie) by die Klapmuts-sportterrein gehou. Dit is deur die Klapmuts-sportraad, die Andries-familie en Stellenbosch-sokkerklub aangebied.
“Stellenbosch FC het onderneem om die nalatenskap van Oshwin Andries te eer ná sy tragiese en ontydige dood verlede jaar,” het Garth le Roux, die klub se bestuurder, gesê. “Dis om hierdie rede dat die klub nie gehuiwer het toe hy genader is om te help met die organisering van ’n gedenkgeleentheid om sy 21ste verjaardag te vier nie.”
Volgens Le Roux was die gedenkfees ook ’n geleentheid om nuwe sokkertalent raak te sien. “Die geleentheid het die Stellenbosch FC-jeugafrigters en verkenners die kans gebied om van die jong talent in ons gemeenskappe van nader te bekyk en hulle moontlik ’n kans te gee om te speel vir ’n plek in die klub se akademie.
“Dit was vir die klub belangrik om op die dag terug te gee aan die gemeenskap deur ’n veilige en prettige omgewing vir die kinders te skep, maar dit sal ook ’n ongelooflike storie wees as ons eendag kan sê dat ons die volgende Oshwin Andries by dié fees gevind het.”