Matrikulante van Hoërskool Kylemore het hul skooluniforms aan minderbevoorregte leerders geskenk.
Een van die onderwysers, Lynette Myburgh, sê dié inisiatief waarin matrikulante hul skoolklere vir minderbevoorregte leerders skenk, kom nou al ’n paar jaar aan.
Myburgh sê: “Ek het gewonder hoe ek die minderbevoorregte leerders kan help en toe het die idee by my posgevat.”
Sy versamel sedertdien jaarliks ou skooluniforms wat die matrikulante vrywillig skenk.
“Ek het die ander onderwysers gevra om vas te stel wie behoeftig is aangesien leerders nie sommer self sal sê wanneer hulle iets nodig het nie.
“Die onderwysers het die behoeftige leerders dan privaat genader en na my verwys.
“Hulle kyk ook gereeld uit vir meisies wie se rokke te kort of stukkend is en nader haar dan privaat,” vertel Myburgh.
Dis egter nie ál die matrikulante wat uniforms skenk nie, want sommige van hulle het ’n broer of suster wat hul uniform moet kry.
Sover bestaan die skenkings hoofsaaklik uit rokke, broeke, hemde en baadjies.
“Soms reik ek uit na model-C-skole vir skoene en daar was al hulp van een van dié skole in die omgewing.”
Myburgh sê die leerders waardeer die skenkings baie, want hul ouers kan nie elke jaar nuwe skooldrag bekostig nie.
Sy dink dit help nie net die behoeftige leerders nie, maar ook dié wat skenk, want dit leer hulle om na ander uit te reik.
Dít en dat hulle beter omsien na hul skooluniform omdat hulle dit in ’n goeie toestand wil skenk.
Een van die matrikulante wat ’n skenking gedoen het, Shahieda Hartogh, sê sy dink dit was ’n goeie idee, want daar is kinders wat nie ordentlike skoolklere het nie.
Shahieda sê: “Daar is ook diegene wat dit nie kan bekostig nie en ons matrikulante sou dit tog maar net weggegooi het.
“Ek het my skoolklere aan dié leerders geskenk nie net omdat ek nou klaar is met skool en dit nie weer nodig sal kry nie, maar ook sodat hulle netjies kan lyk.”
Myburgh sê die boodskap met dié inisiatief is om die gemeenskap te laat besef sy lede moet leer om terug te ploeg.
Dit beteken nie noodwendig net geldelik nie, maar ook op ander maniere, soos dié skenkings.
V
Die berig het oorspronklik in Son van 29 November verskyn.