’n Bekende voormalige Stellenbosser, Denzel Swarts, is onlangs genomineer vir die Forty under 40 South Africa Awards in die afdeling Landbou en Landbou-verwerking.
Die Forty under 40-toekennings is saamgestel om ’n deursnit van die land se mees invloedryke en bekwame jong sakeleiers onder die ouderdom van veertig uit ’n wye reeks bedrywe te identifiseer, te vereer en te vier.
Dit het ten doel om entrepreneurs en sakeleiers wat toegewy is tot besigheidsgroei, professionele uitnemendheid, gemeenskapsdiens en wat op ’n relatief jong ouderdom op die rangleer van hul maatskappy of bedryf gestyg het, te vereer.
“Ek is uit my vel van ekstase! Ek is baie dankbaar aan die mense wat my genomineer het. Sommige kere moet jy net doen en aanhou, al voel dit nie mense erken jou vir al die harde werk wat jy insit nie,” sê Swarts.
Hy sê dis is ’n ongelooflike eer om erken te word vir sy passie en sy werk wat hy oor die jare ingesit het en vir die feit dat dit ’n nasionale erkenning is waarvoor daar meer as 600 nominasies was, en dan in die top-150 en later top-15 in landbou te wees.
“Hierdie erkenning gaan nie net oor my nie, die erkenning gaan oor die plaaskind wat besluit het sy lewe moet ’n lig skyn op die vele plaaswerkers, hul kinders en voorouers wat dalk nie die geleentheid kry in die sogenaamde kollig nie, maar die grootste Wes-Kaapse landbouproduk in die ekonomie aan die gang hou.”
Hy het grootgeword in Koelenhof op ’n plaas en as plaaskind wou hy graag die status quo verbreek wat betref senior plaasbestuur en het wingerdkunde gaan studeer sodat hy as ’n plaasbestuurder kon terugkeer.
“Dit was tevergeefs, omdat my ouers nie vir hierdie loopbaan kon betaal nie, en omdat daar in daardie stadium nie baie beurse beskikbaar was nie.
“Dit het my gewone plaaswerk laat doen en baie kortkursusse om myself in die wynbedryf op te werk. Met baie goeie mentors en ’n plaas wat my ondersteun het, kon ek oor die jare baie wynkursusse doen.”
. Om vir Denzel Swarts te stem SMS “SWARTS” na 36445.