Oud-Stellenbosser vir haar digbundels vereer

Vir haar is dit ’n eer om te kan skryf – ’n medium wat sy glo ’n verskil in ander se lewe kan maak. En om daarvoor vereer te word, is ’n bonus.


Vir haar is dit ’n eer om te kan skryf – ’n medium wat sy glo ’n verskil in ander se lewe kan maak. En om daarvoor vereer te word, is ’n bonus.

Die oud-Stellenbosser Joanita Richter is onlangs vir haar skryfwerk vereer toe sy met twee pryse by die AfriCAN Honoree Authors’ Awards bekroon is.

Sy is vir haar twee boeke, Verse van ’n Plaaskind en Emosies in Woorde, vereer.

Richter het ook in Junie vanjaar ’n Pouveer-toekenning in die afdeling Temadigter vir 2022 ontvang.

“Ek voel dankbaar, maar ek moet erken dat ek baie emosioneel daaroor is. Ek moet vir Jesus al die eer gee. Hy het my uit ’n siekbed laat opstaan – ’n baie moeilike tyd waartydens ek my boeke geskryf het. Dit is hoekom die toekenning vir my baie spesiaal is,” sê sy.

Richter sê haar uitgewer, Heleen Malherbe, het haar aangemoedig en laat glo dat haar boeke ’n sukses sal wees, “en sy was reg”.

“Ek sal altyd dankbaar wees vir Malherbe-uitgewers se dienste.”

Sy voeg by dat dit nie vir haar oor roem en aandag gaan nie, maar om ’n verskil te kan maak.

“Wanneer ek ’n kind kan leer om sinne te bou, is dit genoeg vir my. Dinge soos dit maak skryf die moeite werd. Die prestasie moet ander kan aanmoedig om te gaan vir hul drome.

“Moenie na jou omstandighede kyk nie – glo en vertrou net.”

Sy sê haar grootste inspirasie kom van haar familie en vriende af.

“Hulle is die mense wat agter my staan en my aanmoedig. Ek is dankbaar vir almal in my lewe.

“Ek weet nie wat die toekoms vir my inhou nie, maar wat ek wel weet is dat skryf my passie is en ek dit sal uitleef vir solank as wat ek kan. Ek werk tans aan ’n derde boek, maar ek is glad nie haastig nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.