Oudleerders van die matriekklasse van 1989 en 1990 by Hoërskool Lückhoff het onlangs ná 35 jaar bymekaargekom om hul jare lange verbintenis met die skool te vier.
Oudleerders sowel as oudonderwysers het die geleentheid bygewoon en van heinde en ver gereis om hul klasmaats en leerders te sien.
Olga Paulse, ’n alumnus, sê “toe ’n mede-oudleerling noem sy wou graag hê die oudleerders moet ’n reünie hou en ’n oud onderwyser, mnr. Gavin Erasmus, dit beaam het, het ek net gevoel dis my plig om die reünie te laat gebeur. Gelukkig het Hermanus Paulse die klasgroep in dieselfde tyd op WhatsApp gestig. Ek het dit aan hom genoem, en nie lank daarna nie is die voorstel op die tafel gelê,” verduidelik sy.
Paulse sê wat dit so spesiaal maak, is die feit dat hulle die reünie by die oorspronklike skoolgebou op die hoek van Neethling en Ou Banhoekweg in Stellenbosch, wat nou aan die Universiteit Stellenbosch behoort, kon hou.
“Ons destydse skoolhoofde, mnr. Wyngaardt en mnr. Newman, en sowat 18 onderwysers altesaam, en heelwat oudleerders het van heinde en ver gekom om die geleentheid by te woon.”