Oudleerders van Cloetesville Primêr het onlangs ’n reünie-byeenkoms by die skool gehou en die opbrengs van alle geldinsamelings aan die skool geskenk.
Die reünie is deur Weana Fredericks, Lucrecia Gordon, Pearl Hendrikse, Desmond Block, Belinda Nyssent en Lionel Meyer gereël en was nie beperk tot leerders van ’n sekere jaar of klas nie – dit was oop vir elke leerder wat ooit aan Cloetesville Primêr studeer het.
Oudleerders en oudonderwysers het die kans gehad om mekaar weer ná jare by die geleentheid te sien en met mekaar tyd deur te bring.
Die reünie het ’n tweeledige doel gehad; om weer met hul alma mater te meng en oor die ou dae te gesels, maar ook om die geleentheid as ’n geldinsameling vir die skool te gebruik.
Borge, wat ook meestal oudleerders is of aan die skoolgemeenskap verbonde is, is vir die geleentheid deur oudleerders gesoek – iets wat deur die skool hoog op prys gestel is. Skenkings het gewissel van geld tot artikels wat as pryse uitgedeel kon word op die aand aan oudleerders wat op die donasiebord geldelike skenkings gemaak het.
Die opbrengs uit die minimale toegangsgeld asook die skenking op die donasiebord is alles net so aan die skool geskenk. Daar is reeds sprake van soortgelyke opvolggeleenthede om nog meer vir die skool te doen in die hoop dat meer oudleerders en selfs oudonderwysers sal deel hê aan sulke geleenthede.
Die bestuur wil graag sy opregte dank uitspreek aan alle borge en skenkers wat hierdie geleentheid moontlik en ’n sukses gemaak het.