Oudlid steeds blomkoning

Die laaste oorblywende stigterslid en langlewende president van die Stellenbosch-tuinbou-en-nywerheidsvereniging (Stiv) het verlede week sy 90ste verjaarsdag gevier.


Die laaste oorblywende stigterslid en langlewende president van die Stellenbosch-tuinbou-en-nywerheidsvereniging (Stiv) het verlede week sy 90ste verjaarsdag gevier.

Harry Muller (90) van Idasvallei het Stiv in 1962 saam met vier vriende gestig en in 1979 aan sy laaste skou deelgeneem. Hy het oor die jare heen verskeie pryse by talle nasionale en internasionale blommeskoue, soos dié vir dalias en asters, gewen.

“My eerste skou was in 1963 by die Dalia-skou en in 1964 het ek aan die eerste Asterskou deelgeneem. Ek was van 1980 tot 1989 ’n lid van die Cape Orchard Society, waar ek ook talle pryse gewen het. Ek was ook betrokke by die Clivia-klub, waar ek in 2001 ’n beoordelaar geword het,” vertel Muller.

Ná sy uittrede het hy sedert 1980 oor die land heen beoordeling gedoen.

Muller was vir langer as 50 jaar ’n messelaar en sê hy moes op 16-jarige ouderdom gaan werk omdat sy ma vroeg dood is en hy by die huis moes help.

“Ek is gebore en getoë in Stellenbosch. Ons het eers by Du Toitstasie gewoon en later Idasvallei toe getrek. Dit was swaar tye, en my pa was maar ’n taxi-bestuurder.”

Hy sê sy liefde vir tuinbou het begin toe ’n vriend van hom vir hom plante gegee het, en van daar af het hy net aanhou tuinmaak.

Muller en sy vrou, met wie hy 64 jaar getroud is, het ses kinders gehad, van wie twee reeds oorlede is. “Die een kind is onlangs aan Covid-19 oorlede, maar ek en my vrou het nie covid gekry nie; daarvoor is ons die Here dankbaar.”

Muller is vandag steeds by blommeskoue as beoordelaar betrokke en sê hy is nie meer so fluks om self in die tuin te werk nie.

“Ek kan nie meer self in die tuin werk nie, maar dit is lekker om my kennis aan ander oor te dra en te sien hoe goed hulle vaar.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.