Internasionale onderwysersdag is op ’n spesiale wyse gevier toe 11 oudonderwysers ’n boek oor hul ondervinding as onderwysers oor die jare heen bekendgestel het.
Die boek, Lifelong Learning, is Woensdag (5 Oktober) by die Ou Lückhoff-gebou by ’n spesiale geleentheid bekendgestel.
“Die 11 mede-skrywers is van oor die hele land heen, hoewel die meerderheid van die Stellenbosch-omgewing is,” het dr. Eleanor Damon, die samesteller van die boek, gesê.
Damon sê dit is ’n besonderse boek, wat die kennis en ervaring van gesoute onderwysers ontsluit. “Hierdie boek dien as ’n hulpmiddel en bron van inspirasie vir veral jong onderwysers, wat ‘blaaie vol wysheid’ uit hierdie boek kan neem.”
Matthew Cyster van Pniel, ’n medeskrywer, beaam wat Damon sê en voeg by meer as 400 jaar se onderwysondervinding en -lesse is in die boek opgesluit, wat ’n goudmyn vir enige jong en toekomstige onderwyser is. “Die boek verteenwoordig verskeie geografiese gebiede, asook alle vlakke van onderrig, hetsy dit laerskool, hoërskool of tersiêre onderrig is,” sê Cyster.
“Die boek bring baie nostalgiese oomblikke na vore. Ek het byvoorbeeld my onderwysloopbaan, in hierdie gebou waar ons vandag staan, begin. Die herinneringe van toe ons moes trek, was hartseer, en ek moes diep delf om aan die boek te skryf. Ek het opnuut besef hoe min erkenning veral laerskoolonderwysers kry, en tog is dit hulle wat die grondslag vir onderrig lê,” voeg hy by.
Julia Daniels, ook ’n medeskrywer, sê sy het deur die skryfproses besef hoe baie sy as onderwyser eintlik vermag het. “Dit is verbasend hoe baie ons as onderwysers oor die jare bereik het. Ons lê die grondslag van soveel beroepe. Ons kan trots wees daarop – dat ons mense aanraak en lewens verander. Toe ek begin skryf, het ek nie geweet watter groot invoed hierdie boek op my sou hê nie. Ek hoop dit bring inspirasie vir baie jong onderwysers.”
Nog ’n medeskrywer sê “die skryfervaring was ’n absolute plesier”.
“Ek het myself deur die hele proses waardeer en konstant gevra hoe ek deur my skryfwerk ’n verskil in jong onderwysers se lewe kan maak,” sê Levena Josephs.
“Ek is dankbaar dat my passie (die onderwys) vandag vrugte kan afwerp. Ek salueer elke skrywer wat saam met my geskryf het.”
Die skrywers is dit eens dat hierdie boek deur huidige en toekomstige onderwysers gelees móét word. “Dit is ’n skatkis van eerstehandse raad en lewenswerklike ervaring.”