“Ons is nie te koop nie!”

Dít was die krete van kinders wat eergister (Dinsdag 1 Julie) van Groendal na die Franschhoek-polisiekantoor as deel van ‘n vreedsame optog gestap het.

Ouers, gemeenskapslede en kinders het die strate aangedurf om hulle sterk uit te spreek teen die beweerde seksuele teistering en grooming wat in die dorp plaasvind.

Die optog het gekom weke nadat ‘n video van ‘n man en ‘n meisie, wat in skoolklere geklee is en seksuele dade pleeg, die ronde gedoen het. Inwoners het op sosiale media uitgevaar teen hierdie video met baie wat aangevoer het soortgelyke misdrywe vind gereeld in die gemeenskap plaas, maar word nie gestop nie.

Inwoners en kinders van Groendal loop in die Hoofstraat af as deel van ‘n optog na die Franschhoek-polisiekantoor.

“Ongelukkig word die kinders met ‘n selfoon, klere of selfs kos omgekoop en van daar begin die seksuele misbruik,” verduidelik die Groendal-inwoner Adam Cloete, een van die optog-organiseerders.

Cloete sê dit gebeur gans en al te gereeld dat grootmense in ‘n magsposisie kinders – veral meisies – met aandag en ‘n paar mooi woorde manipuleer.

“Die kinders is so kwesbaar. Ons moet begin wegbeweeg van ‘wat in hul huis gebeur, is hulle probleem’, want dit is uiteindelik die hele gemeenskap se probleem. Verskeie gemeenskapslede het tydens die beplanning van hierdie optog om ‘n tafel gesit en die voorvalle wat daar uitgekom het, is skrikwekkend – kinders so jonk as 12 jaar wat miskrame gehad het, kinders wat kinders kry – dit is onaanvaarbaar!

“Ons is ook bekommerd oor die gesloer van hierdie soort sake wat polisie-ondersoeke en hofverrigtinge betref. Dit blyk polisiebamptes het nie die wilskrag om hierdie sake deeglik te ondersoek nie. Meer moet deur die polisie, die departement van maatskaplike dienste en skole gedoen word om ons kinders veilig te hou. En ons as ouers kan ook nie eenkant staan en verwag iemand anders moet jou kind leer wat is reg en verkeerd nie. Opvoeding oor seksuele misdrywe en veiligheid moet in die huis begin,” meen Cloete.

Volgens Paarl Post, Eikestadnuus se susterkoerant, is die vermoede dat die man in die video wat onlangs versprei is, ‘n geskorste onderwyser en pastoor is.

Dié man, wat vermoedelik iets in die vyftig is, is glo in 2017 van die seksuele molestering van ‘n skoolmeisie aangekla. Die Paarl-streekhof het destyds ‘n vonnis van net vyf jaar opgeskorte tronkstraf opgelê.

Die ma van die betrokke minderjarige meisie het na afloop van die optog by die Franschhoek-polisiekantoor gesê meer moet gedoen word om slagoffers en hul gesinne te ondersteun. “Ons is moeg – moeg van mense wat hul gesigte wegdraai terwyl ons kinders ly en ons as ouers ly. Ons wil geregtigheid hê vir ons kinders wat geteiken word. Ons het nodig dat die polisie en die gemeenskap met ons as slagoffers saamstaan,” was die ma se pleidooi.

‘n Versoekskrif met meer as 700 handtekeninge is by die polisiekantoor aan genl.maj. Sizakhele William Dyantyi van die provinsiale polisieleierskap oorhandig.

In die memorandum vra die gemeenskap onder meer dat borgtog geweier word aan beskuldigdes van seksuele misdrywe waarby kinders betrokke is. Hulle eis ook dat opvoeders, mediese personeel, maatskaplike werkers en ander professionele mense aanspreeklik gehou moet word indien hulle versuim het om hul statutêre plig van aanmelding – soos wat die Kinderbeskermingswet vereis – deur te voer.

Die gemeenskap voer aan die betrokke saak moet na die Valke verwys word en voorkeur geniet.

Die gemeenskapslid Adam Cloete oorhandig die memorandum en versoekskrif aan genl.maj. Sizakhele William Dyantyi van die provinsiale poli- sieleierskap. Foto’s: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.