Jean Louw sê sy hoop Oupa Carlos se boek word hierdie keer uitgelos.Foto’s: Angelo Julies


Oupa Carlos, die Laan se bekendste inwoner wat onlangs onder vandale deurgeloop het, gaan binnekort ’n nuwe bladsy omblaai.

Oupa Carlos se boek, wat in die voorval vroeg in Maart beskadig is, gaan deur die Somerset-Wes-kunstenaar Jean Louw herstel word. Louw het Oupa Carlos as deel van haar Seemingly Peaceful-1-beeldbouwerk geskep.

Hy is met ’n ystersaaglem gesaag om ’n swak plek te maak in die vlekvryestaal-staaf wat Oupa se boek aan sy lyf verbind. Die boek, sy hande, sy maag, alles is gebreek.

Louw sê die herstelproses is redelik duur en tydsaam. “Gelukkig is die eienaars bereid om die herstelkoste te dra. Die koste gaan meer as R30 000 beloop. Alles moet basies verbeter word, maar as mense dit wil beskadig, kan jy dit nie regtig keer nie. Gravering moet gedoen word en die elemente moet stadig verbeter word om te verseker dit breek nie,” voeg Louw by.

Louw sê daar is planne om die sekerheid voor De Haas Living-gastehuis, waar Oupa Carlos gehuisves word, te verbeter.

“ ’n Nuwe kamera met ’n strobe-lig, soortgelyk aan die wat jy by ’n nagklub kry, gaan opgesit word. Dit is ’n paar verblindende ligte wat flikker indien iemand naby Oupa Carlos kom. Ons kan die tyd stel en ons stel voor dat die ligte tussen 00:00 en 06:00 geaktiveer word – dus slegs indien iemand ná 12 aan die beeld peuter.

“Die kamera kan ook ’n SMS gedurende dieselfde tyd stuur en ons oorweeg om dit na die sekerheidswag, wat diens by Daneel Diamonds doen, te stuur. Hy is baie naby aan die hoek. Ons hoop dat ’n flikkerende lig in elk geval iemand sal afskrik en die aandag sal trek van enigiemand in die omgewing.

“Die kêrel wat Oupa Carlos laas beskadig het, was lank besig om die boek los te breek of te wikkel,” voeg Louw by. Louw sê sy hoop Oupa Carlos se boek word hierdie keer uitgelos. “Dit is immers die inwoners van Stellenbosch se beeld en Stellenbossers moet eienaarskap neem daarvan. Dit behoort aan almal.”

You need to be Logged In to leave a comment.