Aan die man van Onder-Papegaaiberg wat die nag van Woensdag (1 Mei) met ’n geweer op vier vrouestudente afgestorm het omdat hulle in die straat getoet het, terwyl “jou kinders slaap” . . .
As jy nie self hierdie lees nie, hoop ek iemand wat jou ken, sal hierdie lees en dat jy jou sal skaam.
Toe hulle vir jou verduidelik dat hul vriendin in ’n huis agter ’n toe hek teen haar sin deur ’n man (jou buurman) aangehou word, dat hulle desperaat is om haar daar uit te kry nadat sy per selfoon ’n hulpkreet met ’n location pin vir hulle gestuur het, hoe het jy gereageer?
Het jy aangebied om hulle te help om die meisie te bevry voordat sy verkrag word? Selfs net om die polisie te bel?
Nee. Jy het dit goedgedink om die vier weerlose meisies met jou geweer te dreig en hulle te verskrik.
My eerste gedagte was: Wat as een van jou kinders hulself eendag in ’n soortgelyke situasie bevind? Hoe sou jy dan reageer? Agterna moes ek wonder of jou buurman jou nie juis gevra het om hulle te verjaag nie sodat hy ongestoord met sy planne kon voortgaan? Hoe dit ook al sy: Skaam jou!