Paasnaweek is kerrievistyd

Dis Paasnaweek en dit beteken onder meer dit is weer tyd vir baie kerrievis en paasbolletjies.


Dis Paasnaweek en dit beteken onder meer dit is weer tyd vir baie kerrievis en paasbolletjies.

Die idee van hierdie klassieke Kaaps-Maleise gereg spruit uit die tradisie dat mense nie op Goeie Vrydag mag werk (of kosmaak) nie. Daarom moes Paasgeregte voor die tyd berei word.

Verder het die Kaap-Maleise slawe ook geglo dit is onheilig om vleis op Goeie Vrydag te eet.

Die vis is ook simbolies omdat dit verbind word met Jesus as die “Visser van mense”.

Gepiekelde en kerrievis is maklik om vir ’n groot familie voor te sit omdat dit lank vooraf gemaak kan word. Dit raak met tyd ook al hoe lekkerder.

Die bekende kosskrywer Dine van Zyl deel haar ingelegde vis uit Die Groot Boerekosboek met ons:

Ingelegde vis:

’n Mens kan nie ingelegde vis sommer so na gedagte maak nie, want as jou kerriesous te soet of te suur of te rissie-brand-sterk is, is die hele gereg bederf en was al die moeite verniet.

Dis beter om ferm vis te gebruik as die vis ’n lang tyd in glasflesse gebêre gaan word, want dit breek nie maklik nie. Gebruik kabeljou, leervis, geelbek of geelstert.

As die vis in die yskas gaan staan en binnekort geëet gaan word, kan ’n mens goedkoper stokvis inlê.

Maak eers die vis gaar:

. 2 kg vis

. sout en peper na smaak

. meelblom

. kookolie

Sny die vis in mote; sout en peper dit.

Besprinkel liggies met meel, of rol in meel en skud die oortollige meel af. Pak uit op ’n plaat in die yskas en laat dit vir ’n halfuur rus.

Verhit ’n bietjie kookolie in die pan, so 3 cm diep. Sodra die olie begin roer, is dit reg. As dit rook, is dit te warm.

Bak die vismote, maar moenie te veel gelyk in die pan sit nie, dan trek dit water.

Bak eers met die velkant na onder en keer dit dan om. So sal die vismote nie kromtrek nie.

Skep uit, hou dit ’n oomblik op die spaan om die olie te laat afloop, klad dit op kombuispapier en los dit dan in ’n groot skottel om af te koel. Pak net een laag, sodat die vis nie water trek nie.

Kerriesous vir ingelegde vis:

. 4-6 uie, in ringe gesny

. 375 ml (1½ k) suiker

. 30 ml (2 e) kerrie

. 15 ml (1 e) borrie

. 10 ml (2 t) kombuissout

. 2,5 ml (½ t) koljanderkorrels

. 8 steranyssade

. 2 stukke kassia

. 30 ml (2 e) groengemmer, gestamp

. 750 ml (3 k) bruin druiweasyn

. 250 ml (1 k) appelasyn of wynasyn

. 250 ml (1 k) water (opsioneel) met 1 e mielieblom gemeng (opsioneel)

. 5 vars suurlemoen- of lourierblare

Sit al die bestanddele in ’n kastrol en kook vir 20 minute.

Pak lae vis en uie in ’n breëbekfles en giet die kerriesous warm daaroor, speserye en al.

Laat dit goed afkoel en verseël. Trek eers kleefplastiek oor die fles om te voorkom dat die asyn die metaaldeksel laat roes.

Die ingelegde vis sal binne drie dae reg wees vir eet, maar dit hou maande lank.

Wenke

. Bak die vis totdat dit gaar is, maar moenie dit droogbak nie.

. Moenie ’n deeg van meel en eier gebruik nie – slegs meel.

. Dit kan ook sonder meel in ’n waterlose pan of onder die oondrooster gaargemaak word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.