Noodpersoneel op die Helshoo­g­tepad ná Dinsdag se ongeluk.Foto: Yaël Malgas


Roderick Louskitt het op ’n mistige Dinsdagoggend ouderge­woonte werk toe gery toe hy vandeesweek in ’n ongeluk omgekom het.

Die Idasvallei-inwoner was in die dorp se rigting onderweg op die Helshoogtepad langs die Nietvoorbij-sokkerveld. Volgens inligting het die 42-jarige op die voetpaadjie padgegee vir stappers en in die proses in die pad beland.

’n Aankomende vragmotor het glo probeer uitswaai vir hom, maar Louskitt het sy kop teen die bak van die voertuig gestamp.

’n Stellenbosser het vertel werkers van die Stellenbosch-munisipaliteit het ná die ongeluk ingespring om te help en ook verseker dat Louskitt bedek was voordat nood­personeel op die toneel was.

Lt.kol. Monique Fortuin, die stasiebevelvoerder van die Cloetes­ville-polisie, het bevestig die polisie het om 06:45 op die toneel gereageer waar ’n vrag­motor en fiets betrokke was.

Familie was Dinsdagoggend op die toneel waar noodpersoneel die toneel opgeruim het en verkeersbeamptes verkeer op die besige pad gereël het.

Edwin Clarke, Louskitt se pa, het op die toneel gesê sy seun het daagliks fiets gery.

“Hy was gereeld op sy fiets – elke oggend en elke aand. Ons bly in Cloetesville, en as hy kom kuier het, het hy uit Idasvallei gery. Dit was maar sy ver­voer,” sê Clarke oor sy oudste seun.

“Sy ma het in September verjaar en ons was almal weg vir haar 60ste verjaarsdag. Ons was almal Hermanus toe – ek, die vrou en die kinders en die kleinkinders.

“Net gisteraand het ons almal nog op die familie se Whatsapp-groep gepraat en ou foto’s van hul kinderdae gedeel, en dat dít nou vanoggend gebeur . . .” vertel Clarke.

Louskitt laat sy vrou, Janine, en drie kinders agter.

’n Saak van strafbare manslag word deur Cloetesville-polisie ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.